Lesedi Cultural Village

Die ervaring gister by die Lesedi Cultural Village (www.lesedi.com) het my en my girls diep geraak. Nou nog voel ek iets in my hart wat ek probeer indentifiseer.

Was dit hulle warm verwelkoming? Toe ons by die ingang instap, begin mans en vrouens aangetrek in hulle kleurvolle Afrika uitrustings nader stap en luidkeels sing. ‘n Lied wat jou innooi en verwelkom en bietjie verleë laat voel oor die onverwagte aandag. Maar soos ek om ons kyk na al die mooi curios en Afrika kuns, voel ek amper tuis. En toe ‘n groep Oosterse (Chinese of Japanese of Korean) toeriste ook by die kraal-tipe ingang instap en die kulturele sangers weer hard begin sing, voel ek skielik bewoë. Hoekom wou ek huil?

Ek het eers Dinsdag die plek met Google opgespoor. Ek het vinnig besluit ons moet gaan, al is dit meer as ‘n uur se ry, (uit verby Lanseria lughawe). My dogter vra met groot opwinden: “Gaan ons regte Zoeloes daar sien?” Dis na ‘n week se werk aan ons Zoeloe projek. Sy het geleer van Sjaka Zulu en sy impi’s. Sy het die assegaai geteken asook die korter iklwa spies. Sy verstaan dat Sjaka bees vel gebruik het om sy groot skilde te maak en weet die wit beesvel het aangedui dat dit ‘n gesoute impi was terwyl baie bruin beesvel in die skild was ‘n teken van ‘n nuwe, onervare impi. Sy het ook geleer dat net die Koning mag luiperd vel kopband dra. En dis seker al hierdie wat sy in gedagte gehad het toe ek aangekondig het dat ons na ‘n Zoeloe dorp sou gaan.

Lesedi (‘plek van lig’ in Sotho) het nie teleurgestel nie. Daar was baie Zoeloes aangetrek soos impi’s met spiese en skilde met die ‘war-cry’ wat gepas is vir sulke manne van Afrika.

20140822-212836.jpg

Die toergids was ‘n mooi Sotho vrou met ‘n sterk stem en duidelike Engelse uitspraak. Ek kon sien sy was gekies omdat sy goed is met wat sy doen maar sy het dit ook geniet. Dit was vir my opvallend hoe almal daar, die dansers en sangers en ‘village people’ wie sit en mielies fyn maak of spiese skerp maak het hul rol gespeel met oorgawe. Hoeveel keer ‘n dag, per week, elke maand moet hulle groepe toeriste vermaak? Maar ek het geen moegheid of verveeldheid raakgesien nie. Dit het regtig gevoel asof ek nou net by ‘n platteland Afrika dorp ingeloop het en het SO welkom gevoel.

20140823-090048.jpg

Vrugte sap as welkom drankie soos ons daar aankom.

Ons het eers ‘n kort dvd gekyk in ‘n mooi Afrika-dekor saal wat vir ons ‘n inleiding gegee het tot die 5 hoof Afrika kulture: Die Zoeloe, die isiSotho, die iXhosa, die Pedi en die Ndebele groepe. Dit was goed om op die kaart van Suid-Afrika te sien waar elke ‘tribe’ hulle heenkome maak.

20140822-222924.jpg

Saal waar ons die DVD gekyk het.

Toe gaan kyk ons na elke Afrika village. Die byekorf hutte bekend aan die Zoeloes was ‘n hoogtepunt. (Sien ons weergawe van hierdie hut in my Z is vir Zoeloe post).

20140822-222842.jpg

Zoeloe byekorfhut.

20140822-222933.jpg

Klein deurtjie sodat mens moet buk om in te gaan. Dit plaas vyande op die agtervoet sou hulle die hut wou aanval.

 

20140822-222951.jpg

Zoeloe impi buite sy kraal.

Teen die tyd loop ek met my baba op my heup, stoot haar leë pram en probeer my ander twee dogters naby hou terwyl ek hulle vorentoe stoot om te sien wat daar is om te sien. Toe stuur die Here ‘n engel in die vorm van ‘n vriendelike Gogo wie in Afrikaans aangebied het om my waentjie te stoot. So stoot toe die pram van dorpie tot dorpie en ek hoef net vir my kleintjies te sorg.

20140823-090111.jpg

Afrika kultuur sluit natuurlik die gevreesde Songoma in. Gelukkig was haar deel in die dag minimaal. Sy was ook nie vreeslik aangetrek soos ek al voorheen toordokters al gesien het nie, maar gewoonweg aangetrekte Zoeloe tannie wat op die grond sit en kruie brand. Die slegte reuk van die brandende kruie is veronderstel om ons energie te gee. Dit was nou moeilik om daardie rook reuk te ontsnap maar ons het maar haastig aangestap. Ek het vir my kinders verduidelik dat die tannie die dorp se dokter is – dat sy nie Jesus ken nie so glo dat sy almal se probleme moet oplos op haar eie.

Maar toe ons genooi was om op ‘n klip te spoeg en op ‘n hoop te gooi as ‘n gebed aan die voorvaders om ons reis te seën, het ek bly staan waar ek is. Ek verstaan dat maskers en bees skedels en kaal borste deel van Zoeloe kultuur is, maar ek trek die lyn by my deelname in voorvader aanbidding. (Die kaal borste verskyn baie in die dvd wat ons gekyk het, maar alle vrouens by Lesedi is mooi bedek.)

Die toer van die Afrika dorpe is uitstekend. In die Xhosa dorp, gaan sit ons in ‘n Xhosa hut en hulle sing vir ons die ‘Clicking Song’ geskryf deur Miriam Makeba. By die Pedi’s het my kinders gedroogte mopani wurms geproe en weer uitgespeog.

20140823-095000.jpg

Tenike hou die gedroogte mopani wurm vas.

En orals werk die dorps mense met hul primitiewe gereedskap om mealies of samp fyn te maal.

20140823-084730.jpg

Zoeloe vrou maak ‘n grasmat.

Toe was dit tyd vir die Afrika dans en sing in die Boma. Die dromme was baie hard maar my kinders (selfs my baba) was nie afgeskrik nie. Hulle was gefasineer met die dansers wat weereens met oorgawe en trots ons gewys het hoe dans ware Zoeloes. En toe was dit ons beurt om saam te dans en ons neem deel want dis vrolik en fun! Twee jong Zoeloe meisies tel vir my dogters op en dans met hulle dat hulle lag van die pret! En my Janéy kondig aan “Ek love die Zoeloes, hulle is so vriendelik!”

En dis wat ek dink my tref: dankbaarheid oor hulle vriendelikheid. Na al die geskiedenis tussen wit en swart, kan hierdie mense ons as Afrikaners verwelkom en saam ons dans as gelykes. Soos hulle gesê het, “We are the Rainbow Nation!”

20140823-090100.jpg

Rainbow Nation

Eindnota: Vir die wie graag Lesedi Cultural Village wil besoek, neem asseblief kennis dat die GPS mens neem na BettaFoods toe (reg agter die Lanseria lughawe). Lesedi is ongeveer 25km verby daardie punt op die Malibongwe pad. Pryse beloop R280 per volwasse, R140 vir kinder 6-12 en kinders 0-5 is gratis. Hulle neem ook skoolgroepe van ‘n minimum van 20 kinders teen R120 per kind. Vir kontak besonderhede, sien hulle webwerf. (www.lesedi.com)

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s