Kopskuif

Ek kou aan hierdie artikel al ‘n paar weke nou. En elke mamma wat my vra hoe moet sy maak en elkeen wat vertel hoe bang en benoud sy voel oor hierdie hele tuisskool ding, moedig my aan om hierdie artikel te skryf.

Want dit is die einde van die jaar en daar is baie ouers daar buite wat nou wik en weeg oor die kwessie: Kan ek my kind uit die skool haal en tuisskool??!

Ek wil nie daardie vraag vir jou beantwoord nie. Ek wil eerder gesels oor die kopskuif wat elke ma en pa moet maak wanneer hulle kinders skuif van hoofstroom, publieke of privaat skool tot tuisonderrig.

Eerstens, vra jouself af, hoekom wil jy jou kind(ers) huis toe bring?

1. Want hulle word gebully en afgeknou?

2. Omdat hulle ge’label’ en gebrandmerk word as die stoute, besige, dromerige, stadige, dom kind?

3. Want jou kind is te slim en selfstandige en word gelos om self reg te kom. Of die ander kinders te help. En kan nie vorder meer as wat die klas vorder nie. Hy is verveeld?

4. Omdat jou kind ‘agter’ is. Hy of sy sukkel om by te bly met die vinnige pas van die skool kurrikulum.

Daar kan nog 10 ander redes wees soos persoonlik (gesondheid dalk), geloof of finansieël. Watookal die rede, daar moet ‘n skuif gemaak word in jou denke.

1. Julle nuwe skool is nou julle gesin. Die klaskamer, jul huis. En JY is eerstens die mamma en dan die juffrou. Daarom is daar dinge wat julle skooldae gaan onderbreek. Soos die loodgieter wat iets kom regmaak. Of’ n nuwe baba in die gesin. Of die afsterwe van ‘n geliefde troeteldier. Hierdie gaan julle roetiene ontwrig maar nie julle LEER keer nie. Kinders leer dan oor die lewe, oor babas grootmaak en ontwikkeling. Oor die huis bou of trek of dienste in en om die huis. Oor emosionele intelligensie en die rou proses. Jy word ‘n lewensafrigter en jy begelei jou kinders deur die situasie. Saam.

2. Jou kinders is nie meer AGTER nie.

Hulle is nou op hulle eie wentelbaan. Julle leerpas is nou hulle pas. Jy werk so vinnig of stadig soos wat jou kind kan. Daar is nie meer iets soos grade nie. Jy skuif aan na nuwe werk wanneer jou kind iets baas raak, of verveeld raak of sukkel om die werk te snap. Jy kom later terug na dit.

Daarom is toetse en eksamens onnodig. Om wat te toets? Dit wat jy laas week oor gesels het? Dit wat jy weet hy nog meer sukkel? Nee, jy hou aan werk en leer en gesels en ontdek en ondersoek en bevraagteken en debateer en maak die leerwerk deel van julle. Sodat jou kind nie slegs dit pappagaai leer vir die toets nie en dadelik dit weer vergeet nie. Maar eerder dit regtig verstaan en begryp. Sodat hulle dit weergee in n gesprek wanneer hulle lus voel om daaroor te praat. En jy staan verstom oor hulle begrip, nie net kennis nie.

3. Jou kurrikulum word bepaal deur jou kind se sterk punte, talente en belangstellings.

Net soos party kinders na n sport skool toe gaan sodat hulle kan fokus op sport, of na n dans of kunsskool om hulle aanleg daarvoor te ontwikkel, het jy nou n nuwe skool geskep wat nommerpas is vir jou kind!

Party kinders geniet n bladsy vol somme terwyl dit ander pap maak net om daarna te kyk. Nie alle volwassenes is rekenmeesters nie, so hoekom moet alle kinders dieselfde wiskunde werk doen? Kinders hou van speel so soek maniere om wiskunde te leer soos julle speel. Sien my artikel oor wiskunde speletjies.

Party kinders is lief vir wetenskap eksperimente of naaldwerk of bak en brou. Dan doen jy dit! Wie weet of jy die volgende Masterchef daar groot maak! Hoekom ploeg en stoei met lees of skryf of wiskunde as jou kind kan uitblink met iets anders? Die taal en syfers sal wel later in kom! Jou kokkedoortjie gaan agterkom dat sy moet maal en tel en uitwerk en die resep kan lees. Of n goeie een neerskryf! Daar leer sy als terwyl sy dit eintlik gate uit geniet!

4. Speel is helfde van jou kind se kurrikulum.

Ons almal lees uiteindelik. Dit is nie n wedstryd nie. Jy haal jou kinders uit die skool sodat hulle nie meer mismoedig en swak hoef te voel nie. Moenie hulle nou verder by die huis stamp en stoot om te lees nie. Dit sal kom. Wanneer hulle gereed is. Jy kan gaan vir toetse en terapie en ekstra klasse as jy voel dit sal help. Maar laat jou kind baie buite speel. Die sonlig is goed vir sy oë ontwikkeling. Laat hulle klim en klouter, dit bevorder hulle brein funksie en lees vermoë. Laat hulle speel en hulle verbeeldings wêreld baie groot en diep maak. Dan skryf hulle eendag ongelooflike opstelle!

5. Jy hoef nie gekwalifiseerd te wees nie!

Wie besluit in elk geval wat alles in die CAPS kurrikulum moet kom? Dis net mense soos ek en jy. Wel kundiges in kurrikulum studies en baie slim mense maar wat weet hulle van jou kind af? Niks!

Wat onthou jy werklik van jou skoolloopbaan? Wat gebruik jy nou in jou beroep? Leer DIT vir jou kind. Jou meestervlak in wiskunde of tale of tegniese ambag, want tien teen een, is dit die rigting waarin jou kind ook gaan gaan! Maak hulle eksperts in jou beste vak en dan kry jy tutors of aanlyn hulp of pappa of ouma of ekstra klasse in die veld wat jy voel jy te kort skiet.

Sien julle die kopskuif?

Wil jy nou eers weghardloop of kom daar n rustigheid oor jou? Ek hoop die vrede van die Here sal oor jou daal, en dat jy besef wat kan jy doen deur Christus wat jou krag gee!

Vir verdere lees:

http://oolfant.com/toetse-en-eksamens/

https://practicalpages.wordpress.com/2018/10/10/behind-but-not/


Janet Kieswetter is n tuisskool mamma van Pretoria wat die lewe saam haar man Timothy en hulle 5 dogters terdeë geniet!

4 thoughts on “Kopskuif

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s