Die arm mense pla my

Ons sal altyd die armes by ons hê. So het die Here self gesê. Mattheus 26:11

Die afgelope ruk is die nood om my meer ooglopend en begin my oorweldig. Dit druk op my emosies en my hart. Dis tyd vir introspeksie. Hierdie is ‘n doodeerlike opname van my gevoelens rondom die behoeftiges in ons gemeenskap.

My ouers het onlangs van Engeland kom kuier. Om hulle saam my in die kar te gehad het, het my meer bewus gemaak van die haweloses op die straathoeke. Die werkloses wat sit en wag vir ‘n bakkie om hulle te kom optel vir’ n dag se werk. My ma het my gehelp om die kinders se skoene uit te sorteer sodat ons ‘n sak vol skoene Saterdag kan neem na ‘n plakkerskamp.

Ek gaan deur ons klere en sorteer en versamel. Maak groot sakke vol gereed vir minder bevoorregte mense. Hoekom voel ek dan so omgekrap? Wat pla my?

Eks nie lus om te help nie. Ek wil nie gaan skenk nie. Ek wil nie my lekker lewe onderbreek om vir arm mense te sorg nie. Ek wil net aangaan om in my gemaklike koekon te bly en nie gesteur word deur ander se nood nie. Daar is dit. Ek het dit gesê.

Terselftetyd raak ek kwaad vir my kind as sy huil dat sy honger is. “Daar is brood, daar is die botter! Staan op en maak vir jouself ‘n broodjie! Saterdag neem ek jou na’ n plek waar kinders REGTIG honger is!!”

My 3-jarige wil nie haar speelgoed optel nie. Ek dreig weer: “As jy nie optel nie, sal mamma dit in ‘n sak sit en dit neem na kindertjies wat geen speelgoed het nie! Gaan jy optel? Nou goed!”

Ek is kwaad vir hulle lui selfsugtigheid terwyl ek met presies daardie gevoelens in my eie hart worstel.

Ek WIL beter as dit wees. Ek reël die uitreik! Ek lyk seker baie voorbeeldig want ek WIL my kinders goeie waardes leer. Ek WIL maak soos Jesus gesê het en gee en gee soos Jesus-volgelinge geleer is om te doen. Nie eers Jesus-volgelinge nie, net bloot mense met empatie! Ander mense kry swaar, iemand moet iets doen!!

Ek kyk na die klere in my kas. Hope truie wat ek jare laas gedra het. Tyd om uit te gooi! Iemand kan dit gebruik. Dan is daar elk geval meer plek vir nuwe klere. Splinternuwe klere. Nie tweedehands soos wat ek skenk nie. Die skuld pak my toe.

Dit is die lot van die mens. Die konstante stryd tussen die goeie mens wie ek wil wees en die eie ek wat veg vir sy regte. Die engeltjie op my een skouer wie my aanmoedig om te help en om te gee. En die duiweltjie wat sê “ry net verby, die kinders skree, jy het nie tyd om nou te stop en luister na die ellendes van ‘n bedelaar nie”.

Toe ek terug ry en dieselfde dame sien, het ek gestop en toe huil sy en toe parkeer ek en klim uit my kar en gee haar’ n drukkie. Ek hou die vrou met vrot tande en ‘n leë maag net vas en laat toe dat sy huil. En watse een, die engel of die duiwel sê vir my “Dis mooi, meskien neem iemand ‘n foto en post op Facebook”, en wie se gedagte is “Is dit al wat jy kan doen,’ n drukkie gee? Jou kar is vol inkopies, jy kan ry en nog gaan koop, wat help ‘n druk nou eintlik vir haar honger maag?” So ek gee haar’ n brood en ry weg en weet nie hoe moet ek voel nie.

Ek dink my probleem is ek wil baie gee of beter goed gee maar eindig om die minimum te doen en gee. Soos die ryk mense met hul sakke goud in die Bybel tyd. Hulle gee om goed te lyk terwyl dit hulle nie eintlik traak nie. Is ek soos hulle? Ek dink so. Sommige sal sê dis genoeg dat jy gee, moenie nou top oor jou motivering nie. Maar ek dink dit maak vir God baie saak. Hy sê mos ‘Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.’
2 KORINTIËRS 9:7 AFR83

Wow, daardie vers help baie! Gee soos wat ek goeddink, en voel dan goed daaroor. Stem jy saam met my parafrase?

Die Boodskap vertaling stel dit pleinweg: Gaan besluit nou self hoeveel julle wil gee. Moenie ’n klomp geld gee en dan na die tyd daaroor spyt kry nie. Moet ook nie verplig voel om iets te gee nie. Onthou wat die Bybel sê: God is lief vir mense wat hulle geld met blydskap weggee.
2 Korintiërs 9:7 DB

Ek sien nou eers iets raak. God het die gewer lief! Met my vuil houding en lelike gedagtes? Meskien het Hy geweet ons gaan so dwars voel, die een oomblik vrygewig en gaaf, die volgende nors en suinig. En Hy gee raad. En Hy sê of ons nou baie of min gee, as ons dit doen met ‘n smile, laaik hy dit! Nee, meer as dit, Hy LIEF sulke mense.

Die vrygewige gier het my nou beet, so ek gaan sakke vol maak terwyl ek so voel. En dan as ek klaar gegee het, kan my gewete darem stil bly vir’ n ruk. Ten minste tot die volgende keer dat iemand op my skouer huil van hongerte.

3 thoughts on “Die arm mense pla my

  1. My gedagtes het weer die week in ‘n heel ander rigting gedwaal. Meer oor hoe om dankbaar te wees vir wat ons het. Hier in ons se dorpie is heeltemal te veel. Te veel geld, te veel goed, net te veel! Ek is al soveel keer gekonfronteer met tieners wat onvergenoeg voel omdat hulle nie alles het wat hul maats het nie. Omdat hulle nog nooit (of nog net een keer) op ‘n oorsese reis was. Omdat hulle nog met ‘n iPhone 6/7 sit en nie die nuutste op die rak het nie. Omdat hulle “namebrand” klere nie die huidige seisoen s’n is nie!

    Dit gee my so ‘n naar gevoel. Dis moeilik om kinders groot te maak om dankbaar te wees vir wat hul het as daar soveel oormaat rondom hulle is. Hulle kyk so maklik vas in dit wat ander meer het as hulle in plaas van om die raak te sien wat minder het.

    Ek is dankbaar dat my kinders effe van dit beskut is buite die skool, maar tog voel hul dit ook. Hulle meng steeds met kinders wat makliker kry as wat hulle kry. En dan kom sit daai duiweltjie mos vinnig op jou skouer om onvergenoegdheid te saai.

    Dis goed om so bietjie weg te gee. Om bietjie gekonfronteer te word met die met minder as niks. Ek dink ons almal word te maklik vasgevang in ons behoeftes dat ons nodig het om soms (miskien moet dit meer dikwels gebeur) net weer nodig het om ‘n “reality check” te kry. Om weer dankbaar te wees vir alles waarmee ons geseën is.

    • Haha Lizelle, klink my jou opskrif sal wees: Die ryk mense pla my! 😀 Maar in alle erns, albei arm en ryk forseer ons om ons harte te ondersoek en dankbaar te wees op die ou einde. Dankbaarheid is verseker die sleutel tot die regte gesindheid.

      • Baie beslis. Ek dink dis wat ons al te dikwels kort. ‘n Tikkie dankbaarheid vir wat ons het eerder as om vas te kyk in wat ons nie het nie. Ek dink ons sien maklik die blink in ander se lewens raak en nie hul uitdagings en hartseer nie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s