0

Leefstyl van Leer

Nóg ‘n kopskuif wat nuwe tuisskolers moet maak is die een van skooltyd tot leefstyl van leer.

Oor die algemeen, gebeur skool tussen 7:30 en 14h00. Dit is waar die leer plaasvind. In die skoolgebou. Huiswerk is blykbaar hersiening, (alhoewel ek weet dit al hoe meer nuwe werk en projekte is wat ouers hulle kinders mee help).

Dus, wanneer ouers begin tuisskool, soek hulle die skedule, die tydstip wanneer watse leerarea aan gewerk gaan word. Hulle vra my: “wat moet my kinders weet?” En “op watter ouderdom moet hy/sy kan…” vul in die res.

Die Departement van Onderwys het ‘n volledige, ingewikkelde Uitkoms tabel vir elke graad. Die jaar se temas en werk wat elke graad moet dek is als daar vir enige ouer om te gaan opswot. Die weke en dae, selfs tydstip wat aan lees en praat en skryf gegee moet word is daar. Hier is die skakel https://www.education.gov.za/Curriculum/CurriculumAssessmentPolicyStatements(CAPS).aspx

Maar wanneer jy begin tuisskool, is jy meeste van die dag, week, maand en jaar saam met jou kinders. Daar hoef nie spesifieke ure van die dag uitgeknip te word vir leer nie. Dit werk natuurlik lekker om roetiene te handhaaf en ietsie van ‘n plan te hê. Maar jy gaan sien die ‘skooldag’ is korter as die hoofstroom skole s’n, of konstant ~ hang af hoe jy daarna kyk.

Dis omdat leer die heeltyd plaasvind. En jy kan jouself instel daartoe. Baie leer vind plaas in ons kar. Ek vertel Bybelstories en die kinders luister graag. Ek vertel wat ek geleer het uit my kinderdae. Foute en lesse. Embarrassing moments, dan lag ons saam. Ons ry verby ‘n Engen petrol trok die ander dag soos hy petrol in die massiewe houers onder die grond by die petrolstasie ingooi. Ek wys die kinders gou in die verbygaan. Hulle is verbaas, het nie dit geweet nie!

Ons bespreek baie keer voëls. My jongste is mal oor voëltjies. Sy wil graag hulle uitwys vir my en dan vra sy die name. Soms ken ek die voël. Gewoonlik nie. Dan trek ons die voëlboek nader.

Ons hoor die geroep van ‘n Visarend en dan soek ons hom en voel verheug as ons drie sien sweef hoog in die lug. Hoe en hoekom sweef sekere voëls? Daar volg’ n bespreking en almal deel die kennis wat hulle het.

Gister by die danslesse, sien ons hoe eet Grys Loeries aan ‘n appel. Daars twee, so ons neem aan een is die wyfie en een die mannetjie. My dogter neem my foon en loop stilletjies nader om’ n foto te neem. Hoe het ek geweet dis Loeries? Toe ons kinders was, was my broers deel van ‘n orkes met die naam ‘Die Loeries’. Hulle het hemde en boeke met die prentjie van ‘n Loerie op. Ons het oppad na hulle blokfluit lesse, Loeries gesien in die omgewing en so het ek geleer hoe lyk die voëls. Maar ek het dubbel seker gemaak met Google dat hierdie wel Grys Loeries was. Daars ook helder groenes so kyk uit vir hulle!

Ilani se foto van ‘n Grys Loerie.

Met goeie toeps kan mens baie leer in die verbygaan. Of opsetlik. Ek soek nog `n goeie een om plante te identifiseer. Die Plant app wat ek gehad het erken net Amerikaanse plante. Maar mens kry die wat jy die plant afneem wat jy oor wonder en dan kom die naam op! Hoe cool is dit?!

Mens kan klasieke musiek luister in die kar of by die huis. Soos Beethoven of Chopin se bekende simfonieë opkom, kan julle gesels oor die komponis. Google as jy nie weet nie.

Ek lees vir my kinders baie stories en dit lei na die wonderlikste gesprekke! Voorlees is so ongelooflik vindingryk! Tog voel dit so passief. So min. Ons glo daar moet bladsye werk wees, wit op swart geskryf, om as leer te kwalifiseer. Dis hoekom daar so min tyd is vir speel of swaai of net dagdroom. Want dit lyk te lui om as skoolwerk te tel.

‘n Leefstyl van leer beteken jy (en jou kinders) kan enige tyd en enige plek iets leer. Ek deel die foto met toestemming. Pappa Jannes sê die perd staan vir ure stil terwyl sy ruiter so sit en lees. Wat ‘n salige prentjie om my punt te bewys!

As mens oop is om te leer, enige tyd, enige plek, leer jy baie en aanhoudend. Soos ‘n spons, slurp jy kennis op orals waar jy gaan. Met vakansie. Op uitstappies. By die winkels. In die kar.

Ons het gaan stap in’ n kwekery die week. My kinders besef mens kan jou eie waterval bou met kunsklippe. Hulle hoor ‘n papegaai en besef dit maak seker nie die stilste troeteldiere nie. Ons kom agter hoe duur hout trellis is en wonder of ons een kan bou uit kratte. 🤔

Blootstelling: een van die groot voorregte om in ons land te woon, is om baie geleenthede te hê vir leer ervarings. Mens kan bessies of aarbeie pluk. Skapies en plaasdiere by plase of opstalle besoek. Antieke by teetuine of markdae of museums aanskou. Koeie melk by melkerye. Wetenskap vertonings sien by universiteite. In grotte loop en berge opklim. Selfs die armoede om ons skep geleentheid vir leer. Nie almal in die wêreld weet van plakkerskampe of straat entrepreneurs nie. Ons kinders word geïnspireer om geld te maak sodat hulle kan gee aan die wie dit nodigste het.

Ek onthou nou van die trip na die hospice die ander dag. Ek het my dogters geneem opsoek na tweedehandse boeke want die biblioteek is nog toe. Daar sien ons allerhande outydse ditjies en datjies. Kantoor fone is reeds vir my kinders vreemd en antiek! Gramafoon plate en kasette! Daar was projeksie masjien en skyfies vir skyfievertoning. Dit was ‘n les in geskiedenis terwyl ons snuffel deur die rakke.

Wat het jy nodig om jou denke tot een van ‘n Leefstyl van Leer te verander?

~ nuuskierigheid

~ oop oë, oop kop

~ jou slimfoon gereed om te soek vir antwoorde.

En ‘n bereidwilligheid om te leer!