Energie en Elemente E week

Nogal ironies dat die week wat ons oor energie leer, ons land so baie krag probleme het en Eskom ons vir ure lank sonder energie los. Maar dit skep goeie geleëntheid om daaroor te praat en vir al te gesels oor hernubare energie. Ek is nou spyt dat ons nie ons eie solaroond gemaak het nie!

Geredigeer om by te voeg: Ons het toe die solaroond gemaak! Ek het gedink, hoekom aanbeweeg met nuwe werk die week as ek nie klaar voel met laas week se tema nie? So Google ek hoe ons moet maak en vind die instruksies: https://kidsactivitiesblog.com/15594/solar-oven

En hier is ons s’n

Dit het wel nie die malvalekkers gesmelt nie. Daardie flappie het heeltyd toe geval. Ek het dit opgeprop, ek het dit geplak oor en oor. Die wind was te sterk en dalk is dit hoekom dit nie warm genoeg daar binne geword het nie. No worries, dit was pret! Vir al die eet gedeelte! 😀

Nog ‘n flop die week (die week na die e vir element week, was duidelik f vir flop week:) was die oordrag van energie eksperiment. Ek het dit in’ n biblioteek boek gesien.

Ons het toe ook silinders gekry en met rekkies probeer om die een te draai en dan draai dit die volgende een. Het so bietjie gewerk! Maar toe verf Ilani n pragtige see prentjie soos in die voorbeeld. En die verf het gekeer dat die silinders maklik draai. Nog ‘n mooi kunstuk om my huis mee te versier. 😜

Toe kom help Pappa met die taak. Hy kap spykers in houd. En maak nuwe gatjies in die plastiek houers. Die silinders raak dus nie aanmekaar nie en die verf pla nie. En toe… Werk dit! As jy die eerste silinder draai, draai dit die tweede en derde een self. As gevolg van die rekkies. Dit beeld die oordrag van energie uit.

Terug na laas week toe:

Beste webwerf om die Periodieke Tabel van Elemente volkleur af te laai is https://elements.wlonk.com/ Hulle het n prentjie by elke element wat uitbeeld waarin daardie element gevind is byvoorbeeld Kloor in swembad water of Helium in balonne. Dit maak dit dadelik meer prakties en relevant!

Die webwerf het ook elke element op sy eie in speelkaarte grote met ‘n verduideliking van die element agterop. Manlief het dit by sy kantoor vir my uitgedruk, ons het dit gelamineer en die kinders het daarmee geleer en speel!

Ilani het in ons huis gesoek vir die elemente in huishoudelike items. Lithium is in batterye gevind. Natrium is sout. Ek het vir my kinders die Engelse name geleer van die elemente maar ook gekyk na die Afrikaanse woorde. Sodat hulle ook daarvan weet. Ek ken self nie die Afrikaanse woorde nie, so ‘n pragtige biblioteek boek het daarmee gehelp!

Op Valentynsdag, het Ilani die mooi elemente boodskap gemaak:

Ons het ook oor Energie geleer. Ek gekyk na die les daaroor op http://www.thunderboltkids.co.za maar gevoel dis te elementêr. 🙂 Ek wou sommer oor die soorte energie praat en die verandering van potensiële energie tot kinetiese energie. So toe soek ek werkkaarte daaroor op Pinterest. Weer Engels. Maar baie oulik!

Janéy (11) het die werk gedoen.

Ilani (8) het die werk gedoen. Dit uitgeknip en in die regte kolomme rangskik.

En Tenike (5) het die regte prentjies ingekleur. Sussies het haar bietjie gehelp om die regte energie te identifiseer.

Ek dink mens kan baie meer prakties raak hiermee as wat ons gedoen het. Ek wou potensiële en kinetiese energie op die swaai uitbeeld, maar dit het die hele week so lekker gereën dat ons min buite gegaan het.

My 5-jarige het haar e klankie geleer. Ek het vor haar ‘n soort stempel gemaak van pypskoonmaker. Toe druk sy dit in verf en op die papier. My tweeling het ook saam gemors. Toe dink ek dat ek die e klank ook op n hamer kan plak sodat hulle dit kan hamer op papier. Gedink almal sal heeldag die e wil kap maar toe nie. Ek het dit seker die meeste geniet, haha.

Toe neem ons daardie e papier en plak dit op ‘n emmer. Ek knip to e’ s uit karton en laat my dogter die e’s in die emmer gooi.

Toe sy e’s in haar boek moes skryf, kry sy dit taamlik mooi reg. Dis moeilio vir Graad Rtjies om die letter tussen lyne te skryf. Sy kan dit heel mooi op wit papier skryf, maar dis ‘n groter uitdaging om tussen lyne te skryf.

Toe die krag elke keer af gaan, het ons bordspeletjies gespeel of ek het vir hulle gelees. Ons probeer die beste daarvan maak. Die behoefte vir krag skep weer geleëntheid vir kreatiewiteit! Maak kerse of braai! Daar is baie vorme van energie beskikbaar!

Leave a comment