0

Hoe leer ek my kind om te lees? (Deel 2)

  

Hoe leer ek my kind om te lees‘  is my mees geleesde artikel van al my tuisonderrig posts. In Januarie alleen, was daar 536 klieks op die artikel en 470 in Februarie. Meeste mense word deur Google verwys wat vir my sê dat daar desperate ouers is wat opsoek is na antwoorde. Ek ontvang ook gereelde briewe van onstelde mammas wat besef hulle Graad 3 of 4 kind kan nie lees nie. 

Wat het gebeur? Hoekom het die kind nie op skool geleer lees nie? 

Daars natuurlik baie moontlike antwoorde van hoor- of sigprobleme tot konsentrasie probleme of leerprobleme. Maar ek dink daars iets baie meer eenvoudigs fout: die skool beweeg te vinnig! Die aanleer van klankies word in Graad R gedoen. Graad Eentjies val weg met leesboekies wat groot woorde in het en die kind moet bloot onthou wat Juffrou sê die woord is. Dis waar dat baie kinders deurkom deur slegs die storie te memoriseer. Hy lees mooi vlot vir ouers en juffrou en almal is tevrede. Ongelukkig, besef mamma eers te laat dat hy alles bloot gememoriseer het.

Om te keer dat hierdie gebeur, vra jou kind woordjies afsonderlik van die storie. Sit jou vinger op die woord in die middel van die sin en laat hy dit lees. Sodoende, kan hy nie die rympie of storie onthou nie. Dit gaan nie daaroor om jou kind uit te vang nie, dit gaan oor seker maak dat hy/sy kan lees. 

Ek is bewus daarvan dat klankies op mekaar geleer word. Soms twee of meer in een week. As jou kind afwesig was toe hulle die letter R geleer het, is dit moontlik dat hy glad nie R ken nie en daarom kan hy nie woorde met daardie klank in lees nie.  

Meskien verwar jou kind net twee klankies. Wat baie algemeen is! Meeste kinders onthou nie dadelik al die klankies nie! Hulle kort tyd en oefening met elke klank afsonderlik om dit behoorlik onder die knie te kry. As Jannie nie die verskil tussen b en d onthou nie, lees hy dalk bom as dom en dit raak net erger daarna. Dit is nie genoeg om slegs die alfabet te kan sing nie. Die kind moet verstaan dat die E letter se klank e vir emmer is. F is f vir fiets. ‘n Mens kan nie lees met die hoofletter name van woorde nie. 

Ek sal raai dat daar niks groots fout is met jou kind nie. Hulle het net ‘n stappie hier of daar gemis en nou kan hulle nie maklik klim tot bo nie. Nadat kinders elke klank van die alfabet goed ken en onthou en van mekaar af kan onderskei, moet hul diftonge leer. Dis die aa, ee, oo, oe, ie, ui, uu, eu, ou, ei, aai, ooi, eeu, oei. As hy sukkel om klankies bymekaar te sit en nie bv, s-l-eu-t-e-l kan uitspel nie, kan dit wees omdat hy nie die ‘eu’ klankie ken of onthou nie. Of, hy sukkel met sintesis (die klankies bymekaar voeg). 

Liewe ouer, haal diep asem. Ek raai julle vloek en skel die onnies nou uit in julle kop. Of jy verwyt jouself. Ek dink dis meer CAPS en die sisteem se skuld. Daars net baie werk en baie kinders. Ons almal moet saamtrek eerder as vingerwys.  Sodra jy klaar kwaad gevoel het, kom ons kyk na strategieë vorentoe. 

  • As jou kind Graad R of 1 is, oefen gereeld saam met jou kind al die klankies. Oefen ook sigwoorde soos die, ‘n, ek, dit, wie, wat, jy en jou ens. 
  • Maak of koop flitskaartjies sodat julle saam al die letters van die alfabet weer oefen. Om dit interessant te maak, oefen met skuim letters in die bad, en magnete op die yskas. 
  • Vra anders om ook: waarmee begin ‘boom’? Watse klank hoor jy in die middel van ‘kat’? Waarmee eindig ‘sit’?
  • Sit 2 klankies langs mekaar en laat jou kind dit lees al maak dit nie sin nie. Byvoorbeeld: la, le, li, lo, lu, at, et, it, ot, ut. Hulle oefen dan elke klinker saam met ‘n medeklinker sodat. Hierdie is onsettend belangrike oefeningtjies. ‘n Bou blokkie van lees wat te veel kinders skip. 
  • Eers nadat julle 2 letters saam geoefen tot vervelens toe, kan jy begin met 3-letter woordjies bou. 
  • Oefen diftonge en medeklinker kombinasies: sk, tr, bl, dr, kl, st, gr, 
  • As jy al hierdie gedoen het, maar besef jou kind sukkel nog steeds, neem hom/haar asseblief vir hulp en asseseering. Opvoedkundige sielkundiges is opgelei om tot die wortel van leesprobleme te kom. Hulle sal jou kan help op die regte pad. 


     Ek wens elke ouer baie sterkte toe. Of jy nou tuisonderrig of die ‘school run’ doen. Albei het hulle uitdagings en is dikwels moeilik! Maar, JY kan jou kind tree vir tree leer lees! 

    : Janet Kieswetter het ‘n BPsig in Sielkunde en het haar Na-graadse Sertifikaat in Onderwys verwerf deur die Universiteit van Pretoria in 2006. Sy is getroud aan Timothy Kieswetter en tuisskool hulle 5 dogters in Pretoria. 


    1

    Ice Ice Baby!

    20140718-111931.jpg

    Hierdie week was Y week! Y vir yskoud! Y vir ys! En Ystervarkies!

    Ons het Maandag en Dinsdag lekker hard boeke werk gedoen want Woensdag was bak en brou dag en Donderdag was Mark Dag! Ek het elke dag so geniet!

    Ek gaan nou nie al die werkies wys nie, maar vir die wat wonder, ek maak gebruik van Slimkoppe Wiskunde Graad 1 asook Kumon Addition en ander werkboeke wat ek by boekwinkels opgespoor het. Ek het ook oo werk kaarte afgekom van my dogter se Graad R jaar in die skool. Ilani (4) kan van daardie werkies al doen. (Sy tel en ek skryf vir haar die antwoord, behalwe die 4 wat sy self kan skryf 🙂

    20140718-113453.jpg

    Wiskunde met ys

    Ons het water gemeet in ‘n meetkoppie, dit gekleur met voedselkleursel en dit gevries. Ons wou sien of water in milliliters dieselfde sou weeg in gram. Ons meet toe 25ml, 50ml en 75ml en vries al drie. Toe dit ys was, weeg ons elkeen en wonder bo wonder, dit weeg toe 25g, 50g en 75g onderskeidelik.

    Taal
    Ons gebruik ook Slimkoppe Afrikaans Graad 1. Ek soek vir werk wat te doen het met die letter van die week. Hierdie week kon ons werk op bladsy 43 wat oor voorsetsels gaan. Baie woordjies wat eindig met y. Hy, sy, jy en my.

    Janéy werk ook elke week in Alfabetland werkboek. Ek hou van die inleiding tot begripstoetse wat hierdie boek verleen.

    20140718-155042.jpg

    Lees
    Ek hou baie van Slimkoppie se leesboeke. Ons vorder daarmee. Maar die week het ek nuwe leesboekie aan haar bekendgestel: ‘Oeps’ van die Begin Lees reeks. Sy het dit baie geniet. Die woordjie ‘kyk’ word baie herhaal in die boekie, so sy ken dit ook nou goed.

    20140718-160041.jpg

    Wat ons ook elke week doen is om letters uit te pak om woorde te bou. Ek vra, “Bou vir my ‘wys'” en sy soek die letters en pak dit uit. Ons is nou by die punt waar sy sinne opmaak en dan bou ons dit saam, (want sy kies soms groot woorde wat sy nog nie kan spel nie). Hierdie metode bou haar self-vertroue en is die stappie voor skryf. Ek hou daarvan om haar te vra om die sin wat sy gebou het, nou in haar boek te skryf. Sy kan dan ook die sin tik op die iPad. Sodoende, oefen sy die woordjies op baie verskillende maniere.

    Wetenskap
    Ons het met ys eksperimenteer! Eers gekyk in Wêreldspektrum hoe lyk ysberge en gesien hoe 90% van die ys onder die water lê. Toe wou ons kyk of dit so sal wees met ons ys blokke.

    Ons vries toe klein dinosaurusse in water. Dis iets wat ek op Pinterest gesien het. Sit ‘n klein dinosaurus in ‘n gewone ballon. Gooi water in die ballon, maak toe en plaas in die vrieskas. ‘n Paar ure later is daar Ice Age tiepe gevriesde Dinosourus eiers!

    20140718-144833.jpg20140718-144850.jpg

    Toe plaas ons die Dino eiers in water en kyk hoe baie van die ys steek bo die water uit. My kinders kon sien dat alhoewel die ys dryf, dit meestal onder die water se oppervlakte dryf. Ek verduidelik toe van Titantic wat die ysberg getref het. Dat dit moontlik gelyk het of die groot skip sou verby die ysberg vaar, was die yslike stuk ys onder die water die gevaarlikste deel en veroorsaak dat die skip gesink het. Janéy het opgemerk dat niemand moet dink iets is so goed dat dit nie kan breek nie, want dit is dan wanneer dit wel breek! Nogal so met mense ook né.

    20140718-145934.jpg

    Ons wou nog speel met ys, so ek haal roomys stokkies uit om in water te plaas om te vries. Ek sou die stokkies net laat lê het in die water toe Janéy my keer. “Wag Mamma, ek weet hoe ons die stokkie regop kan laat staan in die water.” Sy hardloop toe na ons kombuis laai en haal wakspapier uit. Sy wys my hoe ons die wakspapier oor die ysbakkie kan plaas. Ek raak toe opgewonde en maak klein glefies in die papier met ‘n skerp mes. Elke stok glip toe netjies deur en staan wraggies regop in die water! Ek was so trots op Janéy!

    20140718-145945.jpg

    So toe dit klaar gevries was, kon ons ysbootjies maak! Ek het die idee hier gekry. https://juffer.wordpress.com/tag/water/

    20140718-150305.jpg20140718-150343.jpg

    Ons het ook met ys geverf! Eers met water pastelle ingekleur. Great produk by Pick ‘n Pay gekoop. Kan as pastelle gebruik word of met water oor die pastelle prentjie gevref en dit word dan soos verf.

    20140718-151356.jpg

    Janéy het in haar boek geskryf en geteken van die 3 Vorms van Water. Ek het toe weer gesien hoe baie geniet sy teken en besluit ek moet seker maak ons teken baie en kunsklasse is ‘n vereiste!

    20140718-151738.jpg

    Woensdag was dit tyd om te bak! Die kinders was baie ywerig en ek was beindruk met hulle uithouensvermoë! Toe die koek klaar was, het ons ‘n produksielyn begin: Ek sny die koek in reghoekies, Ilani doop die koek in die sjokolade sous en Janéy rol dit in klapper. Dit was ook haar idee om ons ystervarkies gesiggies te gee met klein stukkies Liquorice All Sorts. Tenike het vir 3ure soet geslaap sodat ons kon klaar kom!

    20140718-151807.jpg

    20140718-151835.jpg

    20140718-151848.jpg

    Donderdag breek uiteindelik aan (soos Janéy al die hele week met opgewondenheid skree “Ek kan nie WAG vir Donderdag om aan te breek nie!”). En ons is vroeg reg vir Kiddies Market! Dit is ‘n nuwe kos, sweets en speelgoed mark wat gedeurende skool vakansies gaan plaasvind. Uitstallers betaal slegs R20 vir ‘n klein rakkie op mee uit te stal. Daar is ‘n mooi speelarea, toiletgeriewe en kragpunte sou jou stalletjie so plek nodig het (soos ons s’n wel gedoen het!). Selfs veilige plek vir vuur sou jou kind wou braai! Die hele idee is dat jou kinders help met die produkte maak en aanskaf en dan ook deelneem in die verkoop daarvan. Ek sien uit om ‘n ordentlike besigheidsplan op te trek met die kinders en konspete te leer soos profeit, verlies, kostes, ‘float’ ens. Maar vir ons eerste keer was dit net die ontvang en gee van gelde. Laat hulle eers ‘n smaakie kry van verkoop en geld maak voordat hulle meer daaroor hoef te leer, dink ek. En die aankoop van goedere by ander stalletjies was natuurlik ook baie Yum!

    20140718-153012.jpg

    20140718-153025.jpg

    20140718-153043.jpg

    20140718-153051.jpg

    Ons planne vir die naweek? Ysskaats, roomys eet en Disney on Ice gaan kyk!!

    20140718-155051.jpg

     

    5

    Afrikaanse Hulpbronne vir Voorskool en Laerskool

    Ek het lank geworstel oor watter taal om my kinders in te onderrig. Ek ken ‘n paar homeschool gesinne wat suksesvol onderwys gee in Engels terwyl hulle huistaal Afrikaans is. Verseker is die aantal beskikbare Engelse kurrikulums en hulpbronne heelwat meer as Afrikaans. Online videos, werkkaarte, blogs en gratis kurrikulums is daar baie! In Engels! (Sal hieronder links post tot die paar wat ek van weet.)

    En natuurlik as jy gaan homeschool tot Matriek, is die enigste Afrikaanse opsie, die staat matriek (NSS) . Terwyl goeie Engelse opsies Cambridge, Amerikaanse GED, en die SAT. (Meer hieroor op ‘n ander dag.)

    Ek is self tweetalig maar voel akademies sterker in Engels omdat ek in Engelse skole was as kind. Daar is nie twyfel dat dit noodsaaklik is, in vandag se World-Wide-Web wêreld, vir n kind om gemaklik te wees met Engels lees en skryf nie. So, hoe gemaak?

    ‘n Vriendelike tuisskool mamma  het my goeie raad gegee. Sy sê Afrikaans is ‘n makliker taal as Engels. So, ons kan begin leer lees en skryf in ons huistaal en dan binnekort, (sy het gesê ‘laat jou kind jou lei’) Engels in bring. Sy sê haar kinders het maklik die skuif gemaak na Engels toe.

    Die ander ding wat ek moes oorweeg is dat my kind Graad R (0) in Afrikaans gedoen het en so al klaar die letter en klanke van die alfabet in Afrikaans geleer het. Sou ek nou skielik Engelse klankies inbring is daar moontlikheid van verwarring.

    Dis waar dat Engels orals om ons is. My kinders leer Engels deur kinder televisie stories, asook boeke wat ek vir hulle lees. Hulle oupa’s is Engels en sommige maats ook! My oudste geniet om nou en dan ‘n Engesle gesprek met my of Timothy te voer, so sy leer dit sommer in die verbygaan. En wanneer ons Afrikaans onder die knie het en sy begin met verlange kyk na Engelse storie boeke, sal ons met die Engelse alfabet begin. Intussen doen ons Engels woordeskat en vertaal klomp woorde sommer terwyl ons in die kar ry.

    Jou keuse van watter taal om mee te BEGIN homeschool gaan jou keuse van kurrikulum en boeke aankope beïnvloed. So, as jy nog onseker is, wag nog so rukkie. Maar ek het vir eers die Engelse alfabet plakkate gebêre en al die Afrikaanse alfabet aktiwiteite versamel wat ek my hande op kon kry.

    Afrikaanse Hulpbronne vir Voorskool en Grondleggingsfase

    Ek het paar goedkoop aankope gemaak by http://www.leerafrikaans123.co.za/ Hulle e-pos vir jou die leesboekies en werkkaarte en mens druk dit eenvoudig uit. Hulle het baie goeie Klankie oefen werkkaarte vir Graad R-3.

    Ek is seker julle het Slimkoppe se reeks al ontdek! Ek het dit in Dischem en Exclusive Books en Bargain Books. Wow, dit is pragtig kleurvolle boeke wat voldoen aan die Nasionale Kurrikulum en Assesserings-beleidverklaring (NKABV). Na my mening is dit ‘n MOET koop vir tuisskool mammas. http://www.slimkoppe.co.za Wat ek van hou van hierdie reeks en wat vir my baie belangrik is, dis trots Suid-Afrikaans. Dit lê klem op ons reenboog nasie en al ons nasies is verteenwoordig in die prentjies en name.

    Image

    Hulle het nou ook ‘n Lees reeks uit. Ek versamel hulle, maar sal hulle eers na Lees Afrikaans 123 se leesboeke gebruik. Vlak 1 is nog steeds nie vir my eenvoudig genoeg vir beginner leesertjies nie.

    Wonderlike Afrikaanse hulpbron is dan ook www.kinderwerf.co.za  Hulle het klomp gratis werkkaarte wat hul ook e-pos en hul pakkette is uitstekend uiteengesit! Ek het so pas hul 10 Weke Skoolgereedheid kursus klaar ontvang. Dit was slegs R120! Elke Maandag het ek e-pos ontvang met gemiddeld 22 bladsye se aktiwiteite en vaardighede wat Graad R kinders moet kan doen. Dit is puik!

    Dan het ek pragtige Suid-Afrikaanse tydskrif in Pick ‘n Pay ontdek: Bazoo (die karakter is ‘n Proudly South African skilpad). Dit adverteer as ‘n Afrikaanse Kleutertydskrif met stories en aktiwiteite vir 4-7 jariges. My 3-jarige het die baie geniet! Sy kon al die aktiwiteite maklik doen waar dit nie my 5-jarige se belangstelling behou het nie. (Sy verkies Barbie tydskrifte.) www.bazoo.co.za Ek hou van hoe Bazoo my kind gaan leer van Suid-Afrika. Ons provinsies, ons vlag, ons geld, ons mense! So my kind gaan meer as een vak doen met hierdie tydskrif. Hulle het nou Somerpromosie van al 27 vorige uitgawes met so paar ander great produkte daarby! Gaan loer gerus.

    Image

    En dan, is my my kleutertjie, soos baie Suid-Afrikaners se kleinspan, ‘n  groot aanhanger van Lollos! Sjoe, Alta en Minki het goed gedoen met die konsep en hulle Facebook blad is druk besig. Ek het onlangse hul kleuter werkboek bestel en was baie opgewonde om dit te ontvang! Ek sien dis maar baie eenvoudige werkies, maar sal jou Lollos aanhanger happy en besig hou! www.lollos.co.za

    Image,Image
    Soos julle kan sien, is daar heelwat produkte op die mark vir ons Afrikaner kindertjies!

    Vriendelike groete

    Janet