1

Nóg K-aktiwiteite

Ek geniet nou so baie die letter van die alfabet tema, dat ek sommer oor die naweek nog k-klankie aktiwiteite gedoen het, ek kan myself nie keer nie! 🙂

20140112-202423.jpg

Ek het my kinders die basiese beginsels van krieket geleer. Ek het gekolf, Ilani het geboul en Janéy was die veldwerker. Klein Tenike het aangekyk met koue appel in die hand. Ek het ‘n hele paar lopies aangeteken voor Janéy my uitgekry het, maar ander sus wou nie hê mamma moes uit wees nie, sy kry my te jammer. Janéy het die op en af hardloop in elk geval geniet so toe bly ons maar in daardie posisies. Dit was lekker pret!

‘n Baie oulike alfabet boek is ‘n Annerste ABC-boek vir aspatatte deur Maritha Snyman. Die kinders leer goeie woordeskat aan terwyl hulle na pragtige prente kyk. Die K-rympie is soos volg:

Krokodil kielie sy kitaar
En Koedoe pluk aan ‘n enkel-snaar.
Skril klink die klank uit Kanarie se keel.
Dalk moet sy eerder leer blokfluit speel.

20140112-203519.jpg

Ek het ook die baie oulike storie van Krisjan die Kameelperd vertel in die boek ‘Kameelperde kan nie dans nie’ deur Giles Andreae. Daar is klomp goeie k-woorde tussendeur die storie, bv knopperige knieë, knibbel en knak. Ek dink die skrywer was juis uit om so veel moontlik k’s in te sit!

Klere knip van felt is nog ‘n k-aktiwiteit. Ek sou graag meer tyd wou spandeer aan klere maak vir ons feltpoppe. Dalk kan ons nog meer kreatief raak en kraletjies vaswerk aan rokkies. Maar vir nou het ons mannetjie ‘n jas en das.

En toe moes ons Katjie maskers maak! Sommer van papier borde en eierhouers.

20140112-204133.jpg

20140112-204151.jpg

Ons katjies se ore was van oranje karton gesny so die katties word toe ook oranje- amper rooi (bietjie kwaai katjies hierdie).

20140112-205153.jpg

Om ons ander k-aktiwiteite te sien, gaan hier.

Ek sal nou ongelukkig die k-klankie moet koebaai sê vir ‘n rukkie, ons moet nou eers aangaan met A. 😃

20140112-220119.jpg

20140112-220130.jpg

2

K-klank Aktiwiteite

My idee vir klankies inoefen met my 6- en 3-jarige is om soveel sensoriese aktiwiteite te gebruik as moontlik. En juis die groot voordeel om by die huis te kan leer te benut! Daar is soveel bestandele in en om die huis wat kan bydra tot lekker voel, ruik en sien aktiwiteite. Eerstens moet dit met die tema klank begin, dan moet dit prettig wees en dit moet al die sintuie wakker maak!

So die hele Desember vakansie maak ek notas op my foon oor alles wat met k begin. En in Afrikaans is daar heelwat baie!  (K omdat ons skool Kieswetter Klaskamer is 🙂

Hier is my lysie: K letter

Kop, ken, kniëe, kuite
Maak die letter K met jou lyf

Maak n K met klei

Kruie – kaneel, koffie, kakao, kerrie, knoffel

Kwartels, Kanaan, Konings

Kangaroo, krokodil, kameelperd, kat, kameel, koei, krap, kriek

Koek, klapper koekies, karamel, koeksisters, kiwis, komkommers, koejawels

Klasie blaas die Kersie uit (storie)

“Koljander, Klojander loop deur die bos, my ma en pa kook lekker kos, my boetie verstik aan ‘n druiwetros [korrel], die laaste een se kop word afgekap.”

Skryf: Klein Kira klim en klouter op die die klimraam.

So die dag van die Kieswetter Klaskamer se Opening het ons heelwat van die aktiwiteite saam met die maats gedoen. Ek weet nie wie het dit meer geniet nie, ek of hulle 🙂

20140109-202937.jpg

Ons het die liedjie “Kop en skouers, kniëe en tone” aangepas na “Kop en ken, kniëe en kuite…” En vinniger en vinniger gesing.

Ons het Koljander Koljander se lied ook aangepas sodat niemand verstik nie maar eerder ‘kou aan ‘n druiwe korrel’ 🙂 Maar nogsteeds moes ‘die kop word afgekap!’

20140109-143446.jpg

Daarna het ons ‘n Ruik die Krui speletjie gespeel. Al die kinders kon eers ruik aan Kerrie, Knoffel en Kaneel en toe het ek een vir een geblinddoek en raai watse krui hulle toe ruik. Dit het heel goed afgeloop met die sterk reuke baie duidelik en anders genoeg om maklik te erken. Melk was toe bedien met aarbei strootjies omdat “Koeie vir ons melk gee”.

20140109-204408.jpg

Toe was dit die speletjie wat my dogter later gesê het haar gunsteling van die dag was: Kiki’s met ‘n Kamera. Die oudste maats wat bygewoon het was almal 6 jaar oud en weet hoe om foto’s te neem met ‘n smart foon. Ek het mamma’s vooraf gevra of dit sou reg wees dat hulle kinders rond stap en items wat met ‘n K begin afneem. Dus die kiki’s. Ek en my girls het geniet om die vorige dag die voorwerpe op sekere plekke in die sitkamer en kombuis te plaas. En so was my huis beset met 5 en 6-jariges met selfone in die hand en roepe van “Kyk, hiers ‘n koning!” En “Ek het die kragprop gesien!” En “Tannie, kyk my foto van die ketel.” Die maatjie met die meeste korrekte k-kiki’s het ‘n Kit Kat gewen!

Ek wil gereeld sulke speletjies speel wat my kinders se vermoë met tegnologie inkorporeer.

20140109-204432.jpg

My dogter se foto van die ketel.

My liewe Ma het ook deelgeneem vanuit Engeland deur om ‘n video te stuur van haar vertolking van die storie ‘Die Skewebekfamilie’. Nie Oupa Koos, Boeta Karel, Sussie Karen of Kietsie Kat kry dit reg om die kers dood te blaas nie. Die held Klaas blaas uiteindelik die kers uit! Dit het veral baie vir my beteken en goeie herhinneringe van my kinderdae geprikkel.

Klei moes natuurlik ‘feature’ in die K tema en die kinders moes die K op ‘n papier toepak. Mens kan natuurlik ‘n groot K lamineer en gebruik as plekmatjie vir die kleispel.

20140109-205208.jpg

Gelukkig vir ons begin daar baie heerlike soorte kos ook met ‘n K en ons het lekker geknibbel aan kolwyntjies, gevriesde kersies, koeksisters, karamel en kaaskoek en klapper koekies. Ek het tot koejawel gegeurde ysies gehad, maar van hulle vergeet in die vrieskas!

My pa grap dat ek nou gaan sukkel om so baie aktiwiteite uit te dink vir die volgende klank want ek het heelwat minder tyd! Ek knik, dis verseker, maar ek kan nie nou swyg nie, die koël is deur die kerk!