5 Oefeninge om jou 5-jarige se konsentrasie te verbeter

Die konsentrasie frustrasie! Dis vir my belaglik hoe hulle praat van konsentrasie die heeltyd by die skole. Dit voel vir my of elke tweede kind met ADHD bestempel word. Jinne, hulle moet nie my konsentrasie in ‘n klaskamer toets nie, daar sal dadelik ‘n voorskrif vir pille in my hand gestop word!
Kinders is veronderstel om nuuskierig te wees en rondom hulle te wil kyk. As hulle ‘n geluid hoor, is dit natuurlik om te kyk wat maak so. Klasse is ‘n hoogs aandag afleibare omgewing en nou wil grootmense hê 5-jariges moet konsentreer! Dis eintlik baie onredelik.

Maar nou ja, ons kan nie wegkom daarvan nie. So hoe moet ons daarmee saamleef en ons kids leer om te ‘cope’?
Speel konsentrasie speletjies!
*Hy moet tot 10 tel terwyl jy vir hom snaakse gesigte trek.
*Hy moet sy hele familie teken terwyl jy koek bak.
*Sy moet ‘n vlegsel in haar pop se hare maak. (Baie keer speel jou kind vir ure aan een met Lego of Barbies. Hulle is dan besig om te konsentreer. Daardie spel is so goed en belangrik, ons besef nie altyd hoe help dit hulle skoolgereedheid nie.)
*Hy kan die alfabet vir jou skree terwyl jy met elektriese klitser besig is.
* Gee hulle legkaarte om te bou, en as jy tyd het, bou saam. Die samesyn help jou kind om langer te fokus en jy as ouer strek jou kind se konsentrasie vermoë deur om teenwoordig te wees.
En na die lawaai, sit julle oorkant mekaar en laat hy jou ‘n storie/fliek/grappie/iets wat in sy dag gebeur het vertel. Kyk stip in sy oë en luister aandagtig. Kinders leer hoe hulle moet maak deur ons voorbeeld. As ons nie kan konsentreer as hulle met ons praat nie, kan ons nie verwag dat hulle moet konsentreer as Juffie met die hele klas praat nie.
En lees vir jou kind. Lees baie stories! Eers boeke met baie prente vir kort tye en dan al hoe langer. Tot jy 20 min aan een lees en boetie die heeltyd groot oë sit en luister. Dis hoe lank sê deskundiges moet 5-jariges kan konsentreer. Dertig minute vir 6-jariges.
Nog iets wat konsentrasie bou is bordspeletjies. Kinders moet instruksies volg, kyk wat gebeur, luister na ander en fokus op iets.
Luister stories op CD.
Help in die huis en die tuin. Volgende keer wat boetie al die Oaties op die vloer mors, laat hy dit opvee met ‘n skoppie en besem. Dit verg konsentrasie om te fokus op die taak tot dit klaar is. Selfs ‘n krieket game werk goed om konsentrasie te oefen. Die veldwerkers moet heeltyd die kolwer dophou en wag tot die bal in sy rigting geslaan word. ‘n Aandag afleibare speler gaan die bal mis.
Konsentrasie gaan oor uithouensvermoë en self-beheersing. Kinders is nie daarmee gebore nie, dis aangeleer.
So kom ons kyk hoe goed het jy gekonsentreer 🙂 Hoe lank moet 5-jariges kan konsentreer?

3 thoughts on “5 Oefeninge om jou 5-jarige se konsentrasie te verbeter

  1. Hi. My kleinkind nou in Gr 1. Sy juffrou sê hy het groot konsentrasie probleem?? Enige advies wat om te doen om dit te verbeter asb. Dankie. Mari

  2. 20 min lank! Dankie Janet, dit gee my moed om te weet kinders Kani lank konsentreer nie. Ek sê vandag nog vir Ney haar aandag is soos ‘n goue vissie 5 sekondes dan vang ietsie anderste haar oëgies! 😂

Leave a comment