5

Nog 3 Afrikaanse apps

Ek het laas jaar ‘n streng rubriek geskryf oor die power gehalte van Afrikaanse apps en is bly dat ek my opinie nou sal bietjie moet aanpas. Ek was baie ge-eerd toe Carien van Zyl, vervaardiger van Cleverkiddo apps, my kontak en haar nuutste drie apps aan my skenk! Ons het hulle oor die naweek afgelaai en my kinders speel nou nog! Ek is opgewonde om met julle die volgende drie apps te deel, Ollie Onthou, Seisoene en Peg board deur Cleverkiddo.

Ollie Onthou

Olifante onthou mos baie goed en jy kan jou kleuter se geheue goed ontwikkel met die app. Daar is drie speletjies wat geheue bou: Geheue Kaartjies, Ouditiewe Geheue en Visuele Geheue. Die tema in die uitgawe is wildediere en die diere geluide kom gepaard met elke dier. Die Afrikaanse spreekwoorde wat deurentyd gesê word is baie oulik en bou taal vaardighede. My kinders giggel en herhaal wat die ‘tannie’ sê: “Jy is nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie!” Dit word bemark vir ouderdomme 5 en onder en ek moet sê dit hou my 4-jarige se aandag die beste. Maar selfs my 21-maande oue dogtertjie verstaan dat sy die diere wat agter die bos inloop, moet onthou en dan daarop druk met haar vinger. Sy verstom my! Ek is so bly daar is reeds apps wat haar kan vermaak EN leer!

Een verbetering wat ek sou wou sien is met die ouditiewe geheue speletjie. As my kinders nie die diere mooi gheoor het nie, sou dit help as daar ‘n ‘luister weer’ knoppie was.

Die app kos R11,99 en is beskikbaar vir iPhone en iPad. Ek sien uit na die Plaasdiere en Troeteldiere weergawes wat blykbaar binnekort beskikbaar gaan wees.

Seisoene

Die oulike app bestaan uit 4 aktiwiteite: Legkaarte, Vorms, Tel en Aantrek Speletjies. Vir elke seisoen is daar ‘n boom met goed in wat tel soos die kind op die items raak. Selfs my peutertjie druk mooi aan die appels en luister hoe die stem tel tot by dertien. Die aantrek speletjie is oulik in die sin dat elke seisoen is daar verskillende klere wat pas by die klimaat. Kinders kan skoene, serpe, hoedens, rokkies en vele meer mooi uitrustings aantrek vir die pop. Daar is wel bietjie van ‘n ‘glitch’ as die kinders te veel klere bo op mekaar pak of raak aan te veel klere. Hulle kan ook nie klere weer afhaal van die pop nie. Die Vorm speletjie is vir my goed. Die vorms word genoem soos die kind hulle optel en pas op ‘n prentjie.

Hierdie app kos ook R11,99 en is gepas vir kinders 5 jaar en jonger.

Ek kan nou ongelukkig nie Peg Board opspoor op my App Store nie. O ja, seker omdat dit op die iPad beskikbaar is en nie op my iPhone nie. Maar die is ‘n goeie leervaardige speletjie in my opinie. Baie goed vir perseptuele ontwikkeling wat belangrik is vir lees. Sien Carien van Zyl se webwerf vir meer besonderhede. http://www.cleverkiddoapps.com (Ek sien dat die bogenoemde speletjies ook beskikbaar is in Engels.)

Ek dink ons kan verseker opgewonde wees oor die toekoms van Afrikaanse apps so lank Carien en haar span aan die gang is!

32

Hoe leer ek my kind om te lees?

Dit was my grootste doelwit. Toe ek die einde van laas jaar my planne vir die jaar met my skoonfamilie deel, was om my oudste te leer lees die grootste verantwoordelikheid wat op my skouers gerus het.

Daar is ses groot vaardighede wat nodig is vir ‘n kind om te kan lees:
Visuele Persepsie (Sien die verskil tussen letters)
Ouditiewe Persepsie (Hoor die verskil tussen verskillende klanke.)
Visuele Geheue (Onthou wat jy gesien het.)
Ouditiewe Geheue (Onthou wat jy gehoor het.)
Visuele en Ouditiewe Integrasie (Sit wat jy hoor en wat jy sien saam.)

Van hierdie hoof vaardighede, is daar ander wat afstam soos diskriminasie en analise en sintese.

Maar wat ek graag wil sê is dat al hierdie vaardighede bou op die fondasie van Letters van die Alfabet leer. Mens kan nie verskille tussen letters sien of hoor as jy nie eers die een letter behoorlik geleer het nie. Ek voel skole begin te vinnige klanke wil saam sit en woorde wil bou voordat hulle seker is elke kind ken al die letters van die alfabet deeglik!

Daarom, as jy jou kind tuisonderrig, moet nie voel jy moet ‘n letter in ‘n week klaar maak nie. Neem jou tyd en spandeer so lank soos nodig op ‘n letter. Laat jou kind al haar sintuie inspan op die woord te sien, hoor, skryf, voel en sê.

Ouditiewe Geheue

Dit is om te onthou wat jy gehoor het. Sodat as jy ‘n woord uitklank, kan jy die begin klank nog onthou teen die tyd wat jy die laaste klank gesê het. Volgens ons spraakterapeut, moet ‘n kind een woord kan onthou vir elke jaar van hulle ouderdom. So my dogtertjie moet ses nommers in ‘n ry vir my kan terugsê nadat ek vir haar dit opgesê het.
Bv: Herhaal agter my aan: 8 2 5 3 10 4.
Sy het dit moeilik gevind en ek kon dit sien in die lees. Sy sou die klankie uitklank m – a – t en dan ‘n woordjie wil sê wat met t begin. Die m is reeds uit haar geheue uit.
Ons het baie oefeninge gedoen om hierdie te versterk maar verbetering was nie dadelik sigbaar nie. Vind
Oefeninge vir Ouditiewe Geheue Oefeninge-Speletjies.

Ouditiewe Diskriminasie

Dis basies om te kan onderskei tussen verkskillende klanke. ‘n Kind moet die verskil tussen b en d kan hoor.
Ek het agtergekom my dogter kan nie altyd ‘hoor’ wat die klank is nie. Ek sou sê ‘bal’. Waarmee eindig die woord bal? Sy sou dink en probeer en dalk die ‘b’ klank sê. Ek sou dit oor en oor stadig sê en klem lê op ‘l’ maar sy sou soms nogsteeds sukkel. Dan laat ek haar na my mond kyk om te sien hoe vorm ek die klank ‘l’ en dan eers kan sy sien wat ek sê. Ek bring dan haar visuele vermoë by wat haar help om te hoor.

Hoekom sukkel my kind so om te hoor? Wel, ek het haar geneem vir gehoor toetse en sy het baie vog in haar ore toe gehad as gevolg van verkoue. Sy is nie ‘n sieklike kind nie maar het drie keer ooronsteking gehad in haar eerste jaar. Sy het nie weer ooronsteking gehad nie, so grommits was nie nodig nie. So dis moontlik dat haar gehoor so effens van ‘n agterstand ontwikkel het of moontlik is dit net iets waarop ons meer attent moes wees.

So ons, saam met die spraakterapeut, het baie gewerk aan ouditiewe persepsie en geheue. Daars oulike speletjies en die oefeninge is prettig maar intensief! My kind het soms moeg en moedeloos geraak en dan sou ek die werkies bêre en ‘n boek optel om vir haar te lees.

Ek het net voortgegaan met die letters en klanke van die alfabet leer. En toe ek sien die 3 letter klankies gaan te moeilik, gaan ek terug na 2-letter klankies. B + a is ba; t + e is te. Dis ‘n stap wat ons uitgelos het. Ons moes ‘n treetjie terug gaan.

Intussen leer ons nog die sigwoordjies. Sigwoorde is woorde wat kinders moet ONTHOU, nie uitklank soos ander woorde nie. Want ‘die’ werk nie as mens dit uitklank nie. ‘n klink soos i maar sy moet dit leer en ken.

Ek het gaan uitvind oor ‘n leessentrum by ‘n bekende privaatskool. Hoe help hulle kinders leer lees? Ek was verras om te besef dat hulle gebruik maak van ‘n rekenaarprogram! Daars nie persoonlike hulp of raad of metodes om te leer lees nie. Die kind is voor ‘n rekenaar neergesit en doen persepsiële oefeninge tot hulle kan lees. Eintlik moet die kind reeds kan lees om die leessentrum te benut! En dan is dit lees op verskillende spoed en begripstoetse na die tyd. Die oog word geoefen om aan te hou beweeg en meer vlot te lees. Baie oulike rekenaarprogram maar ek was bietjie teleurgesteld en ook triomfant want nou is daar weer bevestiging vir my dat ek nie my kind hoef te neem vir lees oefening nie, ek kan eenvoudig self die leesprogram aanskaf en haar meer begelei as die skool sou kon!

Toe laas week haal ek Klanke Sonder Trane 1 uit. Dis pragtige oefen werk deur elke letter van die alfabet. Ek dink eers, “Ag nee, ek moes dit al lank al deel van ons werksweek gemaak het, dit oefen dan al die letters in die alfabet!” En toe ons met die a-bladsy begin, gebeur ‘n ongelooflike ding: Janéy lees toe vinnig en maklik al die 3-letter woordjies! Ek raak baie opgewonde. Skielik is daar deurbraak! Skielik is die geheue en sintesis en alles wat moet werk, daar! En ek besef ons kom nou by die boek uit presies op die regte tyd!

Want nou vul sy nie net die a-letter orals in nie (wat sy sou doen in die begin van die jaar toe sy net ‘a’-klank geken het) maar sy kan eintlik nou elke woordjje lees wat daar staan!

En ek wonder wat dit is. Hoekom werk dit nou? Is dit al ons ouditiewe geheue oefeninge deur die jaar? (Het seker bygedra.) Of is dit omdat sy ouer is – amper 7 – en nou werk daai deel van haar brein? 😜 Of om dit mooier te stel, nou het sy die vermoë.

Ek onthou toe sy moes leer potty-train. Ek het haar op 3 na die dokter toe geneem en bekommerd vertel dat maak nie saak wat ek doen nie, sy knyp nie daai piepie nie. Toe sê die dokter dat ek moet ontspan en haar los. Want haar liggaam was nog nie instaat om te knyp nie. Sy sê wat help dit ek forseer haar en haar lyf is biologies nog nie gereed om te potty-train nie?

So, daar is mense wat sal stry en sê ‘n kind kan geleer word om iets te bemeester. Enig iets? Enige ouderdom? Meskien.

Maar in my ondervinding was dit voordelig vir ons, om Janéy op so ‘stadige’, eerder normale, pas te leer lees, totdat sy instaat was om te lees. Ek het nog nie die boek, ‘Better late than early’ deur Raymond and Dorothy Moore gelees nie. Maar ek dink ek stem saam met hulle siening. Moenie jou kind druk om iets te snap nie. Lei hulle bietjie vir bietjie. Soek alternatiewe as die eerste metode nie werk nie. Vind prettige en oorspronklike maniere om dieselfde ding te oefen. Inkorporeer jou kind se belangstellings. En laat jou kind besef dat lees, ‘n wonderlike ontdekkingsreis is.