Lui Dae

Daar is baie flukse tuisskool mammas!

Die wat dou voor dag opstaan en werk inpas voor die kinders wakker word. Ek dink aan boervrouens op die plaas wat die koei gemelk het en botter gemaal en brood gebak het voor die kinders kom sit vir ontbyt! Ek dink aan Rista wat saam haar man 4uur opstaan en sy kosblik pak en hom afsien werk toe terwyl dit buite nog donker is. Ek haal my hoed af vir die Supervrouens!

Ek is nie so mens nie. Ek het vanoggend tot 7:50 geslaap! Meskien haal ek nog slaap in van my kinders se babajare. Nie een het deur geslaap voor 2 jaar oud nie. Ek het elke aand telkemaal opgestaan. Ek slaap steeds nie deur nie, maar 2 wakker kere is vir my baie goed in vergelyking met 15 of meer kere opstaan.

Wat ookal die rede, ek begin sommige dae, vir al in die winter, baie stadig. En wat van Tuisskool? Elke dag hier by ons lyk anderste. Laas Donderdag het ek so lui gevoel. Dit was koud en ek het ‘n vuur aangesteek in die kaggel. Toe lees ek vir die kinders uit die pragtige boek: Joan of Arc. Dit is uitstekend geïllustreer en die woorde werk goed saam om haar storie akkuraat uit te beeld. Ek en my dogters was nogal opgesweep in haar saga. My tweeling is 5 en hulle het in ‘n fort gespeel wat die ouer sussies vir hulle gebou het in die sitkamer by ons voete. Ons is snoesig saam op die bank. Die passie en ywer van Joan d’Arc roer mens se binnestes. En toe sy doodbrand by die vuurstapel, eggo die woorde van die soldate, Jesus se eie soldate: ‘sekerlik het ons nou ‘n vrou van God doodgemaak’.

My enigste opdrag aan die kinders daardie dag, was om een van haar aanhalings mooi oor te skryf. Elkeen het iets anders gekies. Ek het Quotes of Joan of Arc geGoogle en my oudste het een van daardie gekies. Sommige het meer kuns inkorporeer as ander, maar die aanhaling was daar, en daarmee was die dag ook klaar.

En nou is dit weer Donderdag en ek staan laat op en wonder wat ons vandag gaan doen. 9uur het nog niemand ontbyt geëet nie, so toe begin ek deeg maak vir scones. As die brood klaar is, bak ek dikwels plaatkoekies of scones want EK hou van die eetgoed. Ek roep my 5 girls en ons klits room en dek die tafel vir tee!

Ek lees ook vir hulle humoristiese gediggies van Jaco Jakobs se boek: ‘Ek wil nou nie snaaks wees nie’. Die tweeling sê hulle wil ‘n gediggie leer, so ek stuur hulle met Ilani (11) om ‘n kort een te gaan leer. Janéy (13) bring haar wiskunde na my toe en ons pluis dit saam uit. Toe my 5 jariges vir ons ‘Krap in my neus’ kom opsê het, wys ek vir die kinders uit hoe die een woord verskillend verstaan kan word. ‘Krap’ kan ‘n werkwoord wees, soos die diere dit verstaan het, of ‘n selfstandige naamwoord – ‘n letterlike krap. Die spelling van die woord bly dieselfde!

Ilani voel toe geïnspireer en begin werk aan haar eie gedig. Sy vra oor rymwoorde en ons gesels oor die ritme van ‘n gedig. Wat doen Tenike (8) al die tyd? Sy gebruik my waterverf (waarvoor sy raas gekry het) en skilder ‘n prent!

So, my punt is hopelik vanselfsprekend. Lui dae is lekker! Dit lok gesprekke en kuns uit. Dit gee mens ‘n algemene gevoel van tevredenheid en welstand. V’middag ry ons rond na ballet en drama en winkels, maar ek sit nog in pantoffels en japon! 😊

Leave a comment