Ons Herwin! 

Laas week was nationale Skoonmaak en Herwinningsweek en ons het deelgeneem!  

Daar word baie gebou in ons woonbeurt die afgelope tyd, so daar is baie rommel en vullis in die veld agter ons huis. Die kinders het mooi opgetel en opgeruim.

 

Toe gesels ons oor waar al die vullis gaan. Die antwoorde was eers: “In die groot swart asblikke”. En toe moes hulle bietjie verder dink. Waar neem die vullis trok al die vullis? Dit was die eerste keer dat hulle besef dat daar ashope bestaan. En toe kon ek vertel van al die rommel wat ophoop en honderde jare neem om te verteer. Om vir kleintjies dit te verduidelik, sê ek “dit vrot nie”. Kos gaan vrot en kan deur die grond weer absorbeer word. Maar plastiek en metaal kanne vrot glad nie en bly net daar vir baaaaaaie lank. So wat kan ons doen? Ons kan dit weer gebruik soos die drink bottels. Ons sit nuwe sappies daarin en gebruik dit oor en oor. 

En, ons kan hulle in iets anders verander en hulle herwin! Ons het toe ‘n kuns dag by ons huis gehad en plastiek herwin! Ek het op Pinterest ‘n begeleiding gevind hoe om ‘n mandjie te maak van ‘n leë Coke bottel en plastiek inkopie sakke. Janéy het baie mooi geryg asook die maatjie wat saam kom leer het.

   

  

Die jonger kinders en seuns het die voorkant van die Coke bottel versier. Mammas het gehelp om ‘n tou vas te maak aan die plastiek doppie en daar het mens en ‘Vang-Speletjie’ wat goed is vir hand-oog koördinasie. 

   

 

Ons het gekyk na die simbool van herwinning en die kinders kon dit later self op trokke en sakke raaksien. 

  

Danksy die National Geographic Kids, kon ons mooi sien hoe werk ‘n Herwinningsfabriek. Ilani (5) het dit self oorgeteken op ‘n plakaat sodat sy dit baie goed verstaan het! 

   

Terwyl Ilani daaraan gewerk het, het Janéy (7) getik aan ‘n brief vir die direkteure van ons woonbeurt. Sy was so opgewonde oor herwinning dat sy hulle wou vra of ons herwin houers mag kry vir al die inwoners om hulle gebruikte plastiek, papier en glas te herwin. Ek skryf toe vir haar ‘n eenvoudige brief en sy tik dit oor. Met ‘tik’, bedoel ek sy gebruik een vinger en soek die letters op die sleutelbord. Ek sal later vir haar formele tikstyl leer. Vir nou, is dit goed dat sy familiêr raak met waar die letters is en hoe om hulle in hoofletters en kleinletters te erken. Ek wys haar toe hoe om die brief te e-pos. 

Ek vertel toe vir haar dat om die direkteure dalk meer te oortuig sal ‘n petisie ‘n goeie idee wees! Hoe meer inwoners se handtekeninge sy kry, hoe meer druk sal dit plaas op die ‘mense met die geld’ om in herwin houers te belê. Sy was baie opgewonde oor die idee en kon nie wag om handtekeninge te begin kry nie. 

Ons het eers haar voorlegging geoefen die aand saam met pappa. Hy vra haar wat is herwinning en hoekom moet hy teken? Eers was sy vasgevra en ek en sy gaan weer oor die feite. Daar sien ek dat sy nie heeltemal gesnap het waarvoor die petisie was nie. Ek wys haar prentjies van herwin houers en verduidelik dat dit sal geld kos om te kry. Toe snap sy hoekom sy ander mense se inkoop in die idee voordelig sal wees. Sy gaan terug na pappa-‘buurman’ en praat toe so mooi en duidelik oor die aarde wat ons help nodig het. 

Volgende oggend stap sy en sussie na die bure toe. Ek loer uit die venster en bars met trots! Toe hulle terugkom vir iets om te drink, het hulle twee handtekeninge! Janéy was baie opgewonde en stap dadelik weer na nog bure toe. (Dis hoekom ek van tyd tot tyd gemmerbier en koekies maak vir ons bure om guns by hulle te kweek.) 

   

 

Ongelukkig, was daar min mense tuis en toe die petisie papier per ongeluk gekreukel word, was die wind bietjie uit die seile. Ek moet seker ook meer moeite doen om kwotasies and advertensie bladjies te kry van verskillende herwin maatskapye om saam met die brief aan die direkteure voor te lê. ‘n Vinnige soektog op Google wys dat daar heelwat goeie sulke organisasies is wat houers voorsien en gereeld die papier, glas en plastiek kom afhaal. So, Plan B is, as die estate nie sulke groot houers koop nie, sal ons kyk om self herwinnings sakke te kry waar mens alle herwinbare materiale ingooi. 

Maar vir eers is die onderwerp nou klaar. Ons het ingeskryf vir Plastics SA se kompetisie deur om ons ‘Clean-up’ en ‘Recycle’ fotos in te stuur na die Facebook blad. Miskien kom daar iets daarvan? 🙂 

One thought on “Ons Herwin! 

Leave a comment