My kinders is bederf

‘n Groot argument teen tuisskool is dat kinders blootstelling moet kry aan tawwe tye. Die uitdagings, swoeg en sweet van skool maak kinders sterker.

Ek moet sê ek bekommer soms dat my kinders erg bederf is. Hulle het ‘n woes lekker lewe! Kom ek wys jou.

Hulle kry soms ontbyt in die bed. Al is dit nie hulle verjaarsdag nie. Hier sommer wafels en roomys vir ontbyt!

My kinders hoef nie vroeg op te staan nie. Hulle gaan slaap tussen 20h00 en 22h00 (hang af van ouderdom) en word wakker tussen 7 en 8uur. Geen jaag nie.

Hulle kies wat hulle wil aantrek en ken nie die verantwoordelikheid van uniform mooi oppas en uitsit vir die volgende dag nie. Ek moes my skoolskoene polish. My girls sal nie weet hoe nie.

My tweeling mag stories kyk en kom eers bietjie later Klaskamer toe.  Hulle werk solank soos wat hulle wil, maar maak gewoonlik so paar werkkaarte klaar. Ek of sussies is naby om te help en verduidelk. En dan gaan speel hulle.

As hulle moeg of nie lekker voel nie, weet ek, en gee genade. Ek weet hoe was hulle nag en hoe vrolik het hulle opgestaan. So ek kan aanapssings maak aan die dag se werk sodat ek net vir hulle lees as hulle energie min is. Ek vra watse letter wil hulle leer? Ek toets sommer deur te vra wat ken hulle al en sien wat moet ek hersien.

Mamma is hulle Juffrou. Hier gooi Nivea dobbelstene en doen haar sommetjies.
Buite werk is ‘n welkom verandering.

Hulle speel so baie! Hulle doen geen huiswerk nie, so as skoolwerkies 11uur klaar is, mag hulle speel! Pouses kan halfuur tot ‘n uur duur. As ek sien hulle speel te lekker, los ek hulle en werk saam my oudste aan iets. Die dag is so aanpasbaar dat ons later verder kan werk of die werk uitstel tot more.

Lentedag tent in die tuin. Hulle speel graag ‘Survivor’.

So, my kinders weet nog nie mooi van sperdatums nie. Daars nie verpligte take nie. Net hier en daar vir drama of kuns (of Spaans vir my oudste) is daar ‘n taak wat hulle by die huis moet voltooi. Dan is dit so nuut en ongewoon dat hulle dadelik aan die werk spring en baie tyd en moeite gee daaraan. Hulle neem so baie trots daarin. Dis dan hul enigste werkies wat hulle vir ‘n ander Juffrou moet inhandig!

En dis hoe dit met eksamens gaan wees. My amper 14-jarige het nog nooit eksamens geskryf nie. So wanneer sy eventueel een moet skryf, gaan dit splinternuut wees! Sy gaan baie ou papiere oefen en seker maak sy dek al die inhoud. Sy gaan studie metodes opswot en baie gereed wil voel. Want sy wil haar bes doen in die nuwe ervaring en die groot toets van haar vermoë. Wel, dis wat ander tuisskool mammas getuig. Dis blykbaar wat met hulle kinders gebeur het.

Ons gaan dikwels met vakansie in die skool kwartaal.

Hier was ons by die see op ‘n Maandag.

My kinders sien ten minste een keer per week hulle beste maatjies. Hierdie week het dit gebeur dat ons by ‘n restaurant sit 10uur die oggend en hulle lek vrugte ysies.

En die ander dae kuier hulle met kinders van alle ouderdomme. Dit hang af van ons planne, naskool aktiwiteite en watse kuiers met nuwe tuisskool gesinne ek reël. So hulle speel maar met kinders wat daar is. Al is dit seuntjies wat 7, 5 en 3 jaar oud is. Of klein kleuters wat hulle meer oppas as mee speel. Of kinders wat nie hulle ouderdom is nie maar hulle vind vinnig goed wat hulle in gemeen het.

Maar my dogters is mekaar se beste maatjies. Hulle kliek so goed! Soms speel die middelkind met die oudste twee en ander kere speel sy met die tweeling. Soms speel die oudste met die tweeling of chat met haar tweede sus tot laat in die nag. Nommer 2 en 3 is baie geheg aan mekaar en gee drukkies na die een by drama of ballet was! En die tweeling is natuurlik mekaar se beste-este vriendin.

Hulle ken mekaar en weet presies wat maak mekaar lag of huil. Wat om te sê as die een kwaad is of hoe om aandag af te trek sodat die tantrum ophou. Hulle baklei ook, maar dis meestal oor dat die een nie genoeg luister of stilbly sodat die ander een kan praat nie. 🤭

Skoolkinders werk vir seker harder as my spul. Ek weet dit vir ‘n feit. As ek sien dat my Graad 5 kind moet sinne oorskryf met kommas by, dan sê ek, sy kan net komma inskryf waar dit hoort. Sy leer steeds oor die doel en plek van ‘n komma. Sy skryf net minder. Ilani en Tenike verkies ook teken as baie skryf, so as hulle eerder die prentjie kan teken, dan doen hulle. Of plaas van spelwoorde 5 keer uitskryf, is een keer genoeg solank hulle dit ken.

Baie van hulle werk, het hulle self gekies. Soms, druk ek hulle om die bladsy klaar te maak of werk te doen wat hulle minder geniet. Maar hulle is nuuskierig oor sekere goed en ek laat hulle dit navors en projek daarvan maak. Hulle werk langer en meer aan hulle gunsteling vakke en korter en minder aan dit wat hulle uitput en nie van hou nie. So ek maak die reëls. En dis altyd ten gunste van hulle.

Is julle al naar van al die bederf? Ek weet dis VET bederf. Ek glo ook te veel van ‘n goeie ding kan sleg wees. Ek moet soms deel met verkeerde gesindhede, ondankbaarheid of onvergenoegheid. Dis dan wanneer ek dink om hulle skool toe te stuur: sodat hulle smaakie kan kry van die ‘regte’ wêreld. Ek kry sulke dae. Ek worstel met sulke gedagtes. En dis nie eers al nie!

Ons het vir Brenda, ons voltydse bediende. So huistakies is minimaal. Hulle help net op naweke met skottelgoed en opruim. Brenda se hulp gee my baie tyd om met hulle te spandeer. Hulle is so gewoond aan my konstante teenwoordigheid dat ek ‘n groot welkom en drukkies kry as ek oor naweke terugkom van die winkels af!  O dit was Maandag toe ek gaan dans het. Het my girls by my man Timothy gelos en was weg vir 2 ure. Toe ek by die huis instap, is daar 5 liefies om my te verwelkom! Was die beste ‘group-hug’ ooit! 😄

So, ek weet nie presies wat gaan die uiteinde wees van al die bederf nie. Ek gaan oor ‘n paar jaar die vrug pluk van hierdie tydperk. Gaan dit vrot vrugte wees? Gaan ek berou oor al die liefde en aandag wat ek hulle gegee het? Wat gaan hulle maak met die vrye teuels wat ek vir hulle gee?

Hulle gaan iemand anders baie kan bederf, dis vir seker. Hulle gaan presies weet hoe!

O, en hierdie is my oudste dogter se stoel. Pappa kry ‘n nuwe een en bring die een huis toe. So sy sit en werk by haar lessenaar op die kantoorstoel. #nogbederf #luuksestoel😋

4 thoughts on “My kinders is bederf

  1. Janet, ek wonder oor dieselfde ding. Is die luilekker leer van tuisskool goed vir hulle? Is die rigiede omgewing en verwagtinge van skool nie beter voorbereiding vir die lewe nie? Dan dink ek dat die Jode ag kinders groot van 12 af. Kind wees is so ‘n kort tydjie van hulle lewe. Die voorreg van speel is so vinnig verby. Ek sien hoe hulle verbeeldings uitbrei, hoe hulle verhouding met mekaar groei, hoe hulle net kan wees wie hulle geskape is, en ek is so dankbaar vir die voorreg. Wanneer hulle 12 word, sal ons hulle meer begin leer van reg wees vir die lewe. Tot dan kan hulle kind wees en nie vroeg groot geforseer word nie. Life is cruel. So terwyl ons hulle kan koester, kom ons koester hulle.

    • Dis so waar wat jy sê Mia. Ek het ook so ding wat ek self glo: meskien as seuntjies (en dogtertjies) al die speel uit hulle lywe kry, kan hulle later in hul lewe verantwoordelikhede opneem en hard werk. Nie nog wil speel wanneer hulle mans is nie (verkeerd speel, nie prettig speel nie, daar is gesonde speel). Ek kan verkeerd wees, dis net ‘n gedagte. 😊

      Ek hou van die vers, “When I was a child, I spoke as a child, I understood as a child, I thought as a child: but when I became a man, I put away childish things.” 1 Cor 13

  2. Well done eerstens. 2020 het ons kom stil maak en wys hoe belangrik die rol vd ouers se samesyn is. Kinders en kleinkinders het meer geleer so op n rustige speel manier as in n skool opset waar soooo baie aangaan. Ek gee 43 jaar skool en het laasjaar ervaar die verskil in my kleinseun se groei teenoor hierdie jaar se blootstelling aan kinders wat uit ander huishoudings kom asook die druk selfs van 2&3jarige ouderdomme al. So geniet jou kinders en dankie vir die waarde volle deel.

Leave a comment