4

Wag met skool

As jy nie ‘n keuse het nie; jy moet werk, daarom gaan jou kind skooltjie toe, is hierdie artikel nie vir jou nie. Ek verstaan dat met vandag se ekonomie, is ‘n een-inkomste huisgesin raar en ‘n groot voorreg. So, ek is nie hier om werkende mammas te laat skuldig voel nie. Dankie vir julle harde werk en bydra! Ons waardeer julle!

Ek praat met mammas wat druk voel vanaf die samelewing om hulle peuters en kleuters in die skool te sit. Ek praat met ouers wie oorweeg om hulle voorskoolse kindertjies te ‘tuisskool’. (Dis nie amptelik tuisskool nie, want die wet vereis eers dat kinders op 7 jaar in die skool moet wees. So voor 7, hoef jy NIEMAND se permissie te hê om jou kind tuis te hou nie.) Maar ons noem dit al tuisskool, want dit word al hoe meer abnormaal om voorskool kinders tuis te hê. Dis reeds baie op neergekyk!

Daar is baie druk op kleuter mammas om hulle kinders in die skool te sit. Sjoe! Ek lees op Bakkiesblad van ‘n ma van’ n 1-jarige wie se gesin haar druk om terug te gaan werk toe. Haar seun moet skooltjie toe gaan volgens hulle. Om maatjies te maak! Jinne ouens! 1 jaar oud! Hulle speel nie met maatjies op daardie ouderdom nie! Lyk dalk vir jou so maar dis parallel speel. Om langs ‘n ander kind te speel is nie sosialisering nie! Shame! Ek hoop die mamma geniet nog haar kindjie tuis vir so lank soos moontlik!

Ander mamma voel druk om haar 5 en 3-jarige seuntjies skool toe stuur. Terwyl sy ‘n pragtige kleuterskool geskep het by hulle huis! Maar kinders moet skool toe om maats te maak en te leer en voor te berei vir groot skool, dis wat ons vertel word.

Ek wil iets radikaals sê: ander kinders sit meer stres op’ n kind in sy vormingsjare as wat dit voordelig is!

Hoekom voel ouers hulle is nie genoeg vir hulle kinders nie? Is mamma alleen nie wat ‘n jong kindjie nodig het nie? Die een ma met wie ek gesels het, moes hoor dat haar seuntjies ook bietjie tyd weg van haar nodig het. Wow! Dis ‘n nuwe siening. Dr James Dobson sal stry. Sy boeke sê, kinders speel parallel tot 4 jaar oud. Dat 6-jariges deur ‘n tweede skeidingsangs gaan wat baie normaal is. Die jaar wat kinders Graad 1 toe gaan, is biologies ook die jaar wat hulle skeidingangs beleef! Arme kinders. Hier is navorsing daaroor as jy meer oor dit wil oplees.

‘Maar kinders moet leer deel en hulle beurt wag en vaardighede wat hulle net by ‘n skool gaan leer’, skree die pro-skool kant. Teen 4 jaar, het meeste kinders ‘n boetie of sussie met wie hulle hulle mamma, hulle kamer en hulle speelgoed moet deel. Daar leer hulle van geduld en onselfsugtig wees. In die veiligheid en bekendheid van hulle eie huis.

Dink aan jou werksomgewing. Daar is vriende en ‘buddies’ maar ook mense wie jou warm onder die kraag maak. Jy kan nie hulle vermy nie want hulle is elke dag daar in julle kantoor. So, jy hanteer opmerkings en sluk kwaad woorde elke dag. Dit skaaf aan jou en jy voel geïrriteerd en kwaad maar kan nie elke dag iets terug sê of skree wat jy sou wou nie. Jy probeer net deur die dag kom, sonder om jou koel te verloor.

Kinders beleef dit ook! En hulle emosies is meer intens en moeilik om te beheer. Daardie kind kyk hulle snaaks aan. Daai een vat haar pop. Juffrou sê sy moet kom storie luister maar sy wil nog eintlik klaar speel waar sy was. Daar is heeltyd ‘n getrek en stamp aan haar, fiesies maar ook emotioneel.

Die kleuters moet badkamer toe gaan wanneer hulle nie wil nie, hulle verf of klei wegpak wanneer Juffrou sê dis tyd; hulle moet in kom van buite af wanneer vir hulle voorgeskryf word. Nie wanneer hulle kies nie. As die sand of die wind hulle pla, wie kan hulle daarvan vertel? Dis nie ‘belangrik’ genoeg om vir een van die volwassenes daar te sê dat hy nie sy beertjie by die huis kon vind nie. So die kind loop rond met die bekommerde hartjie heeldag. En dan vra Juffie dat hy op een been staan so lank soos hy kan. Sy moet gou evalueer.

Hoe weet ek die goed? Want ek was ‘n kleuterskool juffrou gewees. Vir jare voor dit, ‘n assistent juffrou. Pragtige skool. Gawe Juffies. Speelplek wat kinders van kan droom. Ek het my als gegee. Die kinders drukkies en liefies gegee. Die lesse so prettig en interessant gemaak soos moontlik. Ek het gedramatiseer en stories uitgebeeld. Ons het liedjies gesing en speletjies gespeel. Maar ek kan die verskil sien tussen daardie kinders en my eie wat ek nou by die huis hou. Maak nie saak hoe oulik die plek is nie, dis nie tuis nie.

Ons het al gehoor dat kinders stouter is by hulle eie mammas as by ander mense of by die kleuterskool. Hoekom is dit? Want hulle kan ontspan en hulle self wees. Hulle kan tantrums gooi en mamma se aandag eis. Hulle kan kla en moan oor als wat pla. Wat doen hulle by die skool? Hulle hou dit in. Onderdruk daardie gevoelens en dit wat eintlik hulle onstel. Hoeveel ouers hoor hoe soet en goed gaan dit by die skool en dan slat die paw-paw die fan by die huis? Dis nie die ma se skuld nie, dis juis omdat daardie moë, oorgestimuleerde kind nou in hulle eie omgewing is waar hulle mag voel en wees en uithak. Onvoorwaardelike liefde maak dit moontlik. Als wat deur die dag opgebou het, loop nou oor. Al die onderdrukte emosies, borrel op eenslag oor. Hou hulle vas mammas. Sê jy kan sien hulle het ‘n rowwe dag gehad. Sjoe, hulle is baie onsteld. So baie gevoelens ~ dis moeilik om te verwoord wat hulle als pla. Hulle kan nog nie vir jou vertel van die honderde klein goedjies wat hulle deur die loop van die dag onstel het nie.

So, as jy kan mamma of pappa, hou jou kind by die huis. Waar hulle kan slaap tot hulle uitgerus is. Waar hulle rustig self kan aantrek en daardie knopie self vasmaak. Waar hulle saam jou plaatkoekies kan maak en kies wat hulle daarop sit. By die huis kan hulle self besluit waarmee hulle wil speel en hoe lank hulle daarmee wil speel. En toilet toe gaan wanneer hulle blaas vir hulle sê dis nodig. En glipsies maak sonder om skaam te voel. En op mammas se skoot klim wanneer hulle die behoefte kry. En net mamma se mooi, gawe gesig sien. Nie klomp vreemdelinge nie.

Ek sê vir mammas wie se familie hulle slegsê omdat hulle tuisbly met hulle kleuters, “HOU SO AAN!” Jy doen goed! Jou kinders weet nie om vir julle dankie te sê nie, so ek sê vir julle dankie! En vir die pappas wat hulle vrouens ondersteun en voorsien sodat hulle kan tuisbly: DANKIE!! Julle is helde!

Mamma, jy is die heel beste persoon vir jou kind. Jy is sy wêreld! En dis hoe dit hoort!