4

Huil saam my kind

Ek soek vanoggend vir my 13 jarige dogter. Ek roep en roep na haar. Ek begin wonder of sy wegkruip. Dis hoe min lus is sy om te kom werk. Ek raak frustreerd. Die hele week moet ek roep en dreig en skel: Kom doen jou werk!!

En gister was sy geniepsig en nors met haar jonger sus. Ek het lank met haar gesels en probeer vasstel wat pla. Sy het nie veel geantwoord nie. Net dat hulle ‘annoying’ is. Ek sê vir haar sy moenie haar gevoelens opkrop nie. Sy mag vir my sê wanneer iets haar onstel.

Ek vra haar toe om koek te bak vir ons bediende. Sy het al voorheen die sjokolade mikrogolf koek gebak. Maar die keer flop dit. Sy voel teleurgesteld. Ek sê sy mag weer een bak. Ons sal die flop eet. Maar die volgende koek het ook een kant plat geval en snaaks gelyk. Ek sê dis dalk die bakpoeier wat oud is. Sy is naby trane. Sy tree baie kwaad op en storm weg. Ek begin dink die hormone pla.

Vanoggend, toe die sussies vra om eers te gaan stap voor skool, sê ek dis reg! Die buitelug sal hulle goed doen. Hulle kom vrolik terug en ons spring aan die werk. Maar Janéy is weer MIA. Ek roep en roep en soek haar.

Sy kom uiteindelik maar sukkel deur wiskunde. Elke som is vir haar erg moeilik. Sy vergeet basiese maaltafels en kan nie lang deel doen nie. Dinge wat ek 2 jaar gelede vir haar geleer het is net skoonveld. Ek doen my bes om nie uit te bars nie. Lelike gedagtes van haar IK begin deur my kop opkom. Ek byt op my tong. En toe bars haar damwal.

Sy ruk van die huil. My hart versag en ek hou haar vas. Sy huil my skouer nat. En begin stukkend vir my sê hoe sy sukkel. Hoe sy niks kan onthou nie. Hoe sy dinge nie kan verwoord soos haar jonger sussie nie. Sy sê sy stap saam Ilani en Ilani vertel als wat sy in ‘n video gekyk het. Sy klink so slim en kan als onthou. Vir Janéy is die woorde nie daar nie. Sy kan nie terugvertel wat sy geleer het nie. Sy kan skaars onthou wat sy geleer het. Sy voel dom. Toe verstaan ek hoekoms sy so stry met haar sussie. Sy voel minderwaardig teenoor haar. Sy kan sien dat Ilani duidelik presteer in areas waarin sy self baie sukkel.

Ek begin saam huil. Ek voel haar moedeloosheid en het nie dadelik antwoorde nie. Ek voel haar pyn en deel die angs. Ek hou haar vas en ons huil net saam.

En toe kom die woorde na my. Hoe goed is sy met haar tweeling sussas. Hoe kalm bly sy wanneer hulle tantrum gooi. Hoe net sy weet wat Nivea weer sal laat bedaar. Ek sê vir haar dat dit nie Ilani se talent is nie. Sy sê altyd iets wat die jongste juis kwaad maak. So, het elkeen sterk eienskappe en goed waarmee hulle sukkel. Dit het haar laat beter voel.

Maar dit was nie totdat ek laat sy die Nessy, Understanding Dyslexia kursus doen nie, dat sy regtig beter oor haarself begin voel het. Die kursus was klomp videos wat met animasie mooi uitbeeld hoe werk iemand met disleksie se brein. Dit het gewys hoe hulle sukkel met kort-termyn geheue en ouditiewe prosessering. Julle moes die lig in haar oë en die verligting beleef toe sy vir my kyk na die videos. “So dis hoe my brein werk!” En dis nie net sy nie. Sy kom agter BAIE mense se breine werk so. Hoekom anders sou hulle die videoreeks gemaak het?! Daars ‘n groot las van haar skouers af: sy is nie dom nie. Haar brein is net anderste bedraad.

Daar was dinge waarmee sy nie gesukkel het nie. Soos skryf. Haar handskrif is baie netjies. En ‘spacial awareness’. Sy kan haar kamer netjies organiseer – geniet dit eintlik baie! So, nie als op die disleksie lys, was van toepassing op haar nie. Sy kom agter dat daar ‘n glyskaal is, dat sommige mense meer sukkel as ander. Dat haar disleksie nie ‘n baie erge graad is nie.

Daar was ook strategieë om daarmee te deel. Baie breke. Herhaling. En ander wat ek weer sal moet besoek. Die Nessy kursus was ook goed vir my om te doen, saam Janéy. Nou kan ek meer geduld met haar hê. Om jou vinger op ‘n probleem te sit, is nie ‘n slegte negatiewe ding nie. Ja, dit maak seer om te druk daarop, maar dit bring verligting om aandag daaraan te gee. Om dit te identifiseer en n naam te gee.

Daarom, is ek van opinie dat kinders hulle diagnosis moet ken. Ek weet nie wanneer is die beste tyd om sulke goed met jou kind te deel nie. Seker elke situasie en omstandighede gaan vra dat gesinne dit sagkens en met wysheid benader. Ek kan net deel watse vrug en sonskyn het dit vir my dogter gebring.

Ek het begin dink ek was verkeerd. Dat sy nie disleksie het nie. So ek het aangegaan en haar gedruk om soos haar portuurgroep te vorder. Ek het gevoel sy moet harder werk en wonder hoekom snap sy nie die Wiskunde nie. Sy het onsteld gevoel. Sy kon die verskil tussen haar en haar suster agterkom. Dit het begin eet aan haar. Dit het haar kwaad en hartseer gemaak. Wat as sy haarself begin haat het?

Hierdie was in Februarie van 2021. Dis nou paar maande later. Dit gaan baie goed met Janéy. Sy kan nie vir ons sê wat sy in haar Spaanse lesse leer nie. Dit wil nie na vore kom as sy saam my in die kar huis toe ry nie. Maar toe sy daar was, het die woorde gevloei. Sy sê sy het slim gevoel. Sy het haar Juffrou verstaan en kon saampraat. So ek glimlag breed en sê ek is so trots op haar!

Ek het Wiskunde boeke (Maths Gaps van McMillian) gekoop wat by Graad 4 wiskunde begin en in die selfde dun boek vorentoe werk tot Graad 6 werk. Nou, sukkel sy nie met Graad 7 Wiskunde nie, sy vlieg deur Graad 4 Wiskunde. Sy lag dat sy al hierdie goed vergeet het. En doen 6 bladsye na mekaar. Sy blom met self-vertroue.

Sy weet waar lê haar kragte. In kinderoppassing en organisering. Sy maak lyste en hou kop van hulle besigheid. Sy skep sisteme met plakkers wat beteken wat met die produkte moet gebeur. Ek is beïndruk! Ons prys haar vir al die goed! En sy voel goed!

Om jou kind te help beteken soms om hulle bewus te maak van hulle diagnosis. Hulle swakhede staar hulle elke dag in die gesig. Hulle kan sien hoe is hulle anders. Hulle vergelyk hulleself met familie en mense op televisie elke dag. As hulle weet dat wat hulle mee worstel ‘n naam het en baie algemeen is, kan dit baie vrede bring. Baie gerusstelling! Hulle is nie weird of freaks of foutief nie. Net anders. En dis ‘n goeie ding!