Wat is jou tuisskool dans?

Die laaste ruk voel ek so frustreerd met myself. Ek is behoorlik ‘all-over-the-place’. Ek het min riglyne, ek vat en ek los weer ‘n ding, maak niks klaar nie, weet nie wat my kinders aan die einde van die dag regtig geleer het nie. Ek voel baie ontevrede met myself.

Maar ek hoef net vir’ n paar sekondes te dink aan ‘n boks kurrikulum of vaste roetiene en dan weet ek; dis nie vir my nie. Ek gaan dit nooit kan volhou nie. My spontaniteit is my sterkte! Ek spog vir’ n vriendin hoe rustige persoon ek is; hoe ek maklik op die bank kan lê as ek moeg voel. Maar in werklikheid ry ek wipplank van emosies. Bly oor my een kind wat mooi werk, kry dan later skaam vir ‘n ander kind wat houding gooi voor gaste. Trots die volgende dag en dan totaal verslae net ure later. My meisies is nog nie tieners nie, maar die emosies en trane in die huis is reeds vollop! Ek weet nie hoe gaan ek cope oor ‘n paar jaar nie.

Dis SO uitputtend om so te lewe. Die innerlike worsteling van myself aanvaar of verander maak my moeg! Soos ek dink oor hoe ek moet maak, fluister die Here vir my oor dans! Die heen en weer getrek wat ek voel is soos die swaai van ‘n dans. En Hy wys my: elke tuisskool gesin het hulle eie tuisskool dans!

Die Rooi groep is die ballerinas! Hulle dans streng en met baie dissipline. Sjoe, ek het baie aansien vir die groep getroue dansers! Hulle werk baie hard! Hulle tone is soms blou en bloedig gedans en tog bind hulle dit net toe en gaan weer voort! Hulle hou hulle arms en hulle kinders se arms omhoog en hulle oë op die doel. En die konsert is ongelooflik indrukwekkend. Mamma, as julle ballet dans, wees baie trots op jouself!

Dan die oranje gesinne dans moderne ballet. Die kurrikulum is nog daar soos die kern bewegings van ballet. Die magies en boutjies moet knyp en die spiere is mooi intoom gehou. Maar daars sekere toelatings gegee soos voete wat nie heeltyd hoef te punt nie, maar soms flexxed mag wees. Julle dans is ook mooi en die moderne insette is welkome verrassings. Mammas wat moderne ballet dans, wees baie trots op julself!

Nou kom ons by die Jazz dansers. Julle gebruik gekoopte kurrikulum vir kern vakke maar voeg werkkaarte by en soek in biblioteke vir ander vakke se boeke. Julle dans het die ‘jazz’ hande. Uitgesprei en styf, tog vriendelik. Julle waai ‘n stok wat praat van daardie huishoudelike take en “chores” wat jul kinders so pligsgetrou doen en jul waai daai hoed by die uitstappies wat julle gewilde gaste by al die museums maak! Mammas wat Jazz dans, wees trots op julself!

Die Cha Cha is die dans wat ek dink ek doen. Daars nog stappe om te leer en boeke om te volg. Maar daars ruimte vir ‘n draai daai kant toe of die kant toe. Ek hou nog my kinders se hande vas maar die leiding is soms naby my en soms verder weg van my af. (Dalk is dit hoekom ek so deurmekaar voel oor hoe ek my kinders lei.) Dan gaan ons vorentoe en dan weer agteruit! Twee tree links en een weer regs! Maar ons is ‘in-tune’! Daars tog ritme hier en dit lyk seker mooi van buite af. Maar weet dat ons ook op mekaar se tone trap en dit voel dikwels of ons misluk. Mammas wat Cha Cha, wees ook trots op julself!

Die volgende pragtige danstyl is die Ierse tap dans! Die kliek van die skoene is die Wiskunde, Lees en Skryf wat pragtig elke dag gebeur. Kliek, kliek kliek maak die skoene se melodie. Die hande lê pap langs die lyf en die ouers voel hulle doen dalk nie genoeg nie maar daardie voete! Hulle beweeg so eegalig en ritmies en vinnig!! Dis die gesinne wat woerts deur die werk vlieg en die res van die dag tyd het vir hulle eie choreografie! En dan tap mamma, en dan tap die kinders. Die voorbeeld is gegee en die kinders kan duidelik en maklik volg! Mammas wat Tap dans, wees trots op julself!

Die style raak losser maar nie minder mooi of talentvol nie. Ek geniet om hip hop te kyk net soveel soos ballet! Die Hip Hop kinders dra bandannas of gekleurde hare. Hulle vertel hul ouers van cool apps en aanlyn kurrikulums wat hulle wil doen. Hulle leer hulself ‘n ander taal praat. Hulle volunteer om ander gesin se troeteldier op te pas. Hulle maak maklik geld. Hulle kan hoog spring of agteroorbuig en dit imposant laat lyk! Ouers wat Hip Hop dans, wees trots op julself!

Dan is daar Freestyle! Dis die Unschoolers onder ons. Die musiek is nie almal se smaak nie maar die dans bly verruklik! Dit trek jou in en hou jou aandag. Wow, hoe doen hulle dit? Dit lyk of hulle nooit ‘n boek optel nie maar hulle is dan so suksesvol! Hulle WEET net hoe om als te doen! Van wiel omruil tot huis versier tot boer! Hulle tree vroeg in hulle loopbaan in en dan wonder almal hoekom het hulle so geworry oor hûlle tuisskool pad! Freestylers, wees trots op julself!

Elkeen se dans los hulle moeg en sonder asem. Elkeen neem energie, fokus en passie! Daarom moet die applous groot wees! Daarom moet ons vir mekaar knik en glimlag, nie wonder of ons hulle move in ons dans moet sit nie. Ons moet mekaar se danse kan aanskou en beïndruk voel sonder om aan ons s’n te wil verander.

Kom terug na jou dans toe. Jou kinders warm nog op. Hulle staan gereed om jou choreografie te leer.