3

Die arm mense pla my

Ons sal altyd die armes by ons hê. So het die Here self gesê. Mattheus 26:11

Die afgelope ruk is die nood om my meer ooglopend en begin my oorweldig. Dit druk op my emosies en my hart. Dis tyd vir introspeksie. Hierdie is ‘n doodeerlike opname van my gevoelens rondom die behoeftiges in ons gemeenskap.

My ouers het onlangs van Engeland kom kuier. Om hulle saam my in die kar te gehad het, het my meer bewus gemaak van die haweloses op die straathoeke. Die werkloses wat sit en wag vir ‘n bakkie om hulle te kom optel vir’ n dag se werk. My ma het my gehelp om die kinders se skoene uit te sorteer sodat ons ‘n sak vol skoene Saterdag kan neem na ‘n plakkerskamp.

Ek gaan deur ons klere en sorteer en versamel. Maak groot sakke vol gereed vir minder bevoorregte mense. Hoekom voel ek dan so omgekrap? Wat pla my?

Eks nie lus om te help nie. Ek wil nie gaan skenk nie. Ek wil nie my lekker lewe onderbreek om vir arm mense te sorg nie. Ek wil net aangaan om in my gemaklike koekon te bly en nie gesteur word deur ander se nood nie. Daar is dit. Ek het dit gesê.

Terselftetyd raak ek kwaad vir my kind as sy huil dat sy honger is. “Daar is brood, daar is die botter! Staan op en maak vir jouself ‘n broodjie! Saterdag neem ek jou na’ n plek waar kinders REGTIG honger is!!”

My 3-jarige wil nie haar speelgoed optel nie. Ek dreig weer: “As jy nie optel nie, sal mamma dit in ‘n sak sit en dit neem na kindertjies wat geen speelgoed het nie! Gaan jy optel? Nou goed!”

Ek is kwaad vir hulle lui selfsugtigheid terwyl ek met presies daardie gevoelens in my eie hart worstel.

Ek WIL beter as dit wees. Ek reël die uitreik! Ek lyk seker baie voorbeeldig want ek WIL my kinders goeie waardes leer. Ek WIL maak soos Jesus gesê het en gee en gee soos Jesus-volgelinge geleer is om te doen. Nie eers Jesus-volgelinge nie, net bloot mense met empatie! Ander mense kry swaar, iemand moet iets doen!!

Ek kyk na die klere in my kas. Hope truie wat ek jare laas gedra het. Tyd om uit te gooi! Iemand kan dit gebruik. Dan is daar elk geval meer plek vir nuwe klere. Splinternuwe klere. Nie tweedehands soos wat ek skenk nie. Die skuld pak my toe.

Dit is die lot van die mens. Die konstante stryd tussen die goeie mens wie ek wil wees en die eie ek wat veg vir sy regte. Die engeltjie op my een skouer wie my aanmoedig om te help en om te gee. En die duiweltjie wat sê “ry net verby, die kinders skree, jy het nie tyd om nou te stop en luister na die ellendes van ‘n bedelaar nie”.

Toe ek terug ry en dieselfde dame sien, het ek gestop en toe huil sy en toe parkeer ek en klim uit my kar en gee haar’ n drukkie. Ek hou die vrou met vrot tande en ‘n leë maag net vas en laat toe dat sy huil. En watse een, die engel of die duiwel sê vir my “Dis mooi, meskien neem iemand ‘n foto en post op Facebook”, en wie se gedagte is “Is dit al wat jy kan doen,’ n drukkie gee? Jou kar is vol inkopies, jy kan ry en nog gaan koop, wat help ‘n druk nou eintlik vir haar honger maag?” So ek gee haar’ n brood en ry weg en weet nie hoe moet ek voel nie.

Ek dink my probleem is ek wil baie gee of beter goed gee maar eindig om die minimum te doen en gee. Soos die ryk mense met hul sakke goud in die Bybel tyd. Hulle gee om goed te lyk terwyl dit hulle nie eintlik traak nie. Is ek soos hulle? Ek dink so. Sommige sal sê dis genoeg dat jy gee, moenie nou top oor jou motivering nie. Maar ek dink dit maak vir God baie saak. Hy sê mos ‘Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.’
2 KORINTIËRS 9:7 AFR83

Wow, daardie vers help baie! Gee soos wat ek goeddink, en voel dan goed daaroor. Stem jy saam met my parafrase?

Die Boodskap vertaling stel dit pleinweg: Gaan besluit nou self hoeveel julle wil gee. Moenie ’n klomp geld gee en dan na die tyd daaroor spyt kry nie. Moet ook nie verplig voel om iets te gee nie. Onthou wat die Bybel sê: God is lief vir mense wat hulle geld met blydskap weggee.
2 Korintiërs 9:7 DB

Ek sien nou eers iets raak. God het die gewer lief! Met my vuil houding en lelike gedagtes? Meskien het Hy geweet ons gaan so dwars voel, die een oomblik vrygewig en gaaf, die volgende nors en suinig. En Hy gee raad. En Hy sê of ons nou baie of min gee, as ons dit doen met ‘n smile, laaik hy dit! Nee, meer as dit, Hy LIEF sulke mense.

Die vrygewige gier het my nou beet, so ek gaan sakke vol maak terwyl ek so voel. En dan as ek klaar gegee het, kan my gewete darem stil bly vir’ n ruk. Ten minste tot die volgende keer dat iemand op my skouer huil van hongerte.

2

Minder as perfekte week

Ek het lank gedink hoe ek hierdie joernaalpos gaan benader. Ons het I vir Indiaan gedoen die week. Die rooi soort, nie die land-India soort nie. Hulle verkies om Native Americans genoem te word. Maar dis nou nie ‘n I letter nie. So, anyway.

Maar die fotos van die week se werk kan ek skaars vir julle wys. Kyk hoe lyk die 5 Indian girls se foto. En dis die beste een wat ek het.

Ek weet mammas met baie kinders sal verstaan hoeveel inspanning dit geneem het om net hierdie kiki te neem. Seker 15 minute eers gesoek vir almal se Indian-hoed-met-veer ding. En die een wil ballerina bly. En die ander een was eers kaal, soos wees bly sy het n rok aan! Maar foto wil mamma hê!

So, wil ek die res van ons week se werk met julle deel? Kan seker die blog post los die week. Niemand hoef te weet van ons minder as perfekte week nie. Maar dan dink mense dalk als gaan altyd hunky-dorey hier in die Kieswetter Klaskamer. Nou nou dink iemand my kinders werk altyd ywerig aan als wat ek voor hulle neer sit en ek verloor nooit my humeur nie. So voor daardie wanindruk geskep word, deel ek maar die waarheid met julle.

Want my kinders het die week se werk nie klaar gemaak nie. Hulle het nie netjies of genoeg gewerk nie. Ek voel hulle het werk afgerammel en so min as moontlik gedoen.

Die kortste, mees eenvoudigste sin was geskryf: Sy vang vis. Ek meen, hoe beskryf dit wat n vis is? Dis nou glad nie kreatief of blog-worthy nie!

Ons het van Sacawagea geleer (uitgespreek Sakka-wa-jia). Haar stempel lyk so:

In werklikheid, het sy so gelyk:

Maar sy lyk minder soos n heldin in die tweede foto. Daar is sy maar ‘n doodgewone Indiaanse mamma. Maar wow, wat’ n brawe jong vrou! Op 12, weggeruk van haar familie en gevangenis geneem deur ‘n vyandige inboorlingstam. Kort daarna is sy verkoop aan ‘n wit jagter. En so, gevra om tolk en gids te wees vir die ekspedisie met Lewis en Clarke in die bundus van Amerika.

My oudste moes dagboek skryf asof sy Sacawagea is. Meskien was daar te min plek vir langer sinne. Maar sy het darem die kruks van die storie verstaan: Maandag: I want visng. [Ja, die Engels en Afrikaans so gemeng] Dinsdag: I said [seker ‘sat’] with tow stinky guys. Woensdag: I had my baby. Donderdag: I made shoes.

En daar het dit opgehou. Tog oulik en iets waaroor ons eendag lekker gaan lag. Toe ek die Engelse weeksdae vir haar neerskryf, wou sy nie alles uitvee en oordoen nie. So toe los ek dit maar so. Ek het Saterdag so halfhartig probeer dat almal hul werk nog klaar maak, maar toe gaan ek winkels toe, so niks het verder gebeur nie.

Nou party ma’s is bang om te tuisskool omdat hulle voel hulle sal te veel vassit en baklei met hulle kinders. Ander voel dat hulle nooit genoeg geduld sal hê nie. En dan is daar die wat glo dat hulle kinders oor hulle sal loop en wegkom met baie. Ek val in daardie kategorie.

Dit is ‘n gevaar. Al die soort mammas bestaan en al die soort kinders. Maar is dit’ n rede om nie te tuisskool nie?

Ek moet eenvoudig daaraan werk. Om strenger te wees. Ek is nie lus nie. Ek wil nie kwaai wees nie. Maar ek moet leer om ferm te wees. Konsekwent te wees. Deur te voer met gevolge en straf. My kinders moet hul werk voltooi. En ek moet seker maak dat hulle doen.

Ek maak verskonings vir hulle. Ons is sopas terug van vakansie. Ons gaan nog in die ding kom. Hulle speel so mooi saam. Ek was besig op my foon, as ek meer op hulle case bly, dan sal hulle beter werk. Al daai is geldige redes. Maar die punt bly staan: ek moet groei. En dan sal hulle ook groei.

Ons sal almal graag soos die stempel Sacawegea wil lyk. Mooi met rooi wange, braaf en voorbeeldig. Sien hoe kyk sy op na die trek voor haar; vol self-vertoue. Maar meeste van ons is in werklikheid mammas wat onseker voel. Wat net een voet voor die ander sit en die Here vertrou dat ons nie sal struikel terwyl ons ons babas op ons rue dra nie.

Net soos God Sacawagea se natuurlike talente gebruik het, sal hy joune ook gebruik! Sy het van kleins af geweet hoe om te bly in die natuur en kos te vind in die bos. Sy kon die taal praat wat nodig was en die terrein takel. Als wat sy moes weet vir haar roeping het sy sommer soos sy groot geword het geleer. En ek glo, JY is ook toegerus om jou kinders te tuisskool! Jou unieke persoonlikheid en aanleg, kennis en lewenservaring is presies wat jou kinders nodig het.

En dit wat jy kort, sal jy leer soos jy loop.

0

Educrates Resensie

Ek is baie bevoorreg om so kreatiewe vriendin soos Stacey van der Walt te hê! Sy bou al jare aan haar praktiese, sensoriese kurrikulum en ek is aan die ontvangkant van haar nuutste produk: Educrates!

Stacey het die behoefte wat mammas het, om ‘n als-in-een boks te hê met aktiwiteite en voorraad om daardie aktiwiteite uit te voer, raakgesien! Ons het nou al All About Me Educrate asook My Clothes een uitgetoets en hul is albei propvol slim en unieke aktiwiteite! Moenie laat die Engelse titels jou afsit nie. Dis gepas vir Engelse en Afrikaanse voorskool kinders.

Sterk, netjiese boks!

En Stacey het aan alles gedink! Daar is klei, papierborde, pennetjies, strooitjies, tot ‘n kinder-vriendelike skêrtjie daarin! Als wat jul gaan nodig kry om 20 Aktiwiteite te doen.

En die netjiese volkleur instruksie boekie is kort en kragtig. Jy kan die aktiwiteit vinnig lees en daars prentjies en fotos om dadelik mooi te verstaan hoe jy moet maak. Niks is onmoontlik ingewikkeld nie, en tog is dit so uitstekend en leersaam!

Dis duidelik dat Stacey opvoedkundige kennis het want sy weet watter areas kinders in moet ontwikkel en sy dek al die areas in haar Educrates. Daars klein asook groot motoriese oefeninge. Taal, syfers, kleure, vorms asook kritiese denke word almal, deur middel van spel en kunsflyt, bevorder.

Kyk net watse pret het my tweeling, (nou 2 jaar, 10 maande oud) en my 5-en-half jarige die week met die Klere tema gehad.

Eerste uit die boks was hierdie yummy happies! My tweetjies het eers geryg en toe heerlik geeet aan hulle krale! Stacey maak ‘n punt daarvan om al die sintuie te betrek so daar is dinge om te proe en ruik, mors en vat, kyk en voel in elke Educrate!

Ek was mal oor die aktiwiteit! Stacey het reeds double-sided tape aan die binnekant van die boks geplak. In haar instruksie boekie, verduidelik sy hoe ons kleertjies uit die servette kan knip en dan kan kleinding dit van links na regs op die ‘wasgoedlyn’ hang.

Stacey sluit tot toiletpapierrolle in die Educrate!

Maklik en oulik was die idee en my Nivea het so geniet om haar Barbie se rokkies te was.

Hier moet sy die pom pom blaas tot binne in die vierkant.

Die hemde prent asook die plakkers wat dien as knope is ook in die Educrate!

Die blou poeierverf is ook ingesluit in die Educrate. En glo my as ek sê, die verf kom baie maklik van die mure af!

Wat ‘n wonderlike inleiding tot naaldwerk vir my 5-jarige! Die plastiek naald, wol en spons was ingesluit natuurlik! Tenike het heel goed reggekom!

Tenike het dit baie geniet om tamatiesous te smeer op die stukkie lap en toe moes sy dit gaan was! Lap, tamatiesous en wasgoedpoeier, is voorsien!

Daar is nog baie meer aktiwiteite en voorraad in die bokse maar ek wil nie als weggee nie! Laat dit ‘n lekker verassing wees vir mammas en kleuters om deur te loer!

Gaan kyk op haar webwerf, kies die ouderdom van jou kleuters, en sien uit na opwindende, maklike tuis speel en leer projekte!

https://stacey135.wixsite.com/edusensefunschool/copy-of-english-preschool-programs

0

Energie en Elemente E week

Nogal ironies dat die week wat ons oor energie leer, ons land so baie krag probleme het en Eskom ons vir ure lank sonder energie los. Maar dit skep goeie geleëntheid om daaroor te praat en vir al te gesels oor hernubare energie. Ek is nou spyt dat ons nie ons eie solaroond gemaak het nie!

Geredigeer om by te voeg: Ons het toe die solaroond gemaak! Ek het gedink, hoekom aanbeweeg met nuwe werk die week as ek nie klaar voel met laas week se tema nie? So Google ek hoe ons moet maak en vind die instruksies: https://kidsactivitiesblog.com/15594/solar-oven

En hier is ons s’n

Dit het wel nie die malvalekkers gesmelt nie. Daardie flappie het heeltyd toe geval. Ek het dit opgeprop, ek het dit geplak oor en oor. Die wind was te sterk en dalk is dit hoekom dit nie warm genoeg daar binne geword het nie. No worries, dit was pret! Vir al die eet gedeelte! 😀

Nog ‘n flop die week (die week na die e vir element week, was duidelik f vir flop week:) was die oordrag van energie eksperiment. Ek het dit in’ n biblioteek boek gesien.

Ons het toe ook silinders gekry en met rekkies probeer om die een te draai en dan draai dit die volgende een. Het so bietjie gewerk! Maar toe verf Ilani n pragtige see prentjie soos in die voorbeeld. En die verf het gekeer dat die silinders maklik draai. Nog ‘n mooi kunstuk om my huis mee te versier. 😜

Toe kom help Pappa met die taak. Hy kap spykers in houd. En maak nuwe gatjies in die plastiek houers. Die silinders raak dus nie aanmekaar nie en die verf pla nie. En toe… Werk dit! As jy die eerste silinder draai, draai dit die tweede en derde een self. As gevolg van die rekkies. Dit beeld die oordrag van energie uit.

Terug na laas week toe:

Beste webwerf om die Periodieke Tabel van Elemente volkleur af te laai is https://elements.wlonk.com/ Hulle het n prentjie by elke element wat uitbeeld waarin daardie element gevind is byvoorbeeld Kloor in swembad water of Helium in balonne. Dit maak dit dadelik meer prakties en relevant!

Die webwerf het ook elke element op sy eie in speelkaarte grote met ‘n verduideliking van die element agterop. Manlief het dit by sy kantoor vir my uitgedruk, ons het dit gelamineer en die kinders het daarmee geleer en speel!

Ilani het in ons huis gesoek vir die elemente in huishoudelike items. Lithium is in batterye gevind. Natrium is sout. Ek het vir my kinders die Engelse name geleer van die elemente maar ook gekyk na die Afrikaanse woorde. Sodat hulle ook daarvan weet. Ek ken self nie die Afrikaanse woorde nie, so ‘n pragtige biblioteek boek het daarmee gehelp!

Op Valentynsdag, het Ilani die mooi elemente boodskap gemaak:

Ons het ook oor Energie geleer. Ek gekyk na die les daaroor op http://www.thunderboltkids.co.za maar gevoel dis te elementêr. 🙂 Ek wou sommer oor die soorte energie praat en die verandering van potensiële energie tot kinetiese energie. So toe soek ek werkkaarte daaroor op Pinterest. Weer Engels. Maar baie oulik!

Janéy (11) het die werk gedoen.

Ilani (8) het die werk gedoen. Dit uitgeknip en in die regte kolomme rangskik.

En Tenike (5) het die regte prentjies ingekleur. Sussies het haar bietjie gehelp om die regte energie te identifiseer.

Ek dink mens kan baie meer prakties raak hiermee as wat ons gedoen het. Ek wou potensiële en kinetiese energie op die swaai uitbeeld, maar dit het die hele week so lekker gereën dat ons min buite gegaan het.

My 5-jarige het haar e klankie geleer. Ek het vor haar ‘n soort stempel gemaak van pypskoonmaker. Toe druk sy dit in verf en op die papier. My tweeling het ook saam gemors. Toe dink ek dat ek die e klank ook op n hamer kan plak sodat hulle dit kan hamer op papier. Gedink almal sal heeldag die e wil kap maar toe nie. Ek het dit seker die meeste geniet, haha.

Toe neem ons daardie e papier en plak dit op ‘n emmer. Ek knip to e’ s uit karton en laat my dogter die e’s in die emmer gooi.

Toe sy e’s in haar boek moes skryf, kry sy dit taamlik mooi reg. Dis moeilio vir Graad Rtjies om die letter tussen lyne te skryf. Sy kan dit heel mooi op wit papier skryf, maar dis ‘n groter uitdaging om tussen lyne te skryf.

Toe die krag elke keer af gaan, het ons bordspeletjies gespeel of ek het vir hulle gelees. Ons probeer die beste daarvan maak. Die behoefte vir krag skep weer geleëntheid vir kreatiewiteit! Maak kerse of braai! Daar is baie vorme van energie beskikbaar!

0

Dinosourus week 2019

Kry jou maskers by https://www.itsybitsyfun.com/dinosaur-masks.html

Speel met die dinosourus wêreld.

Ek gaan sommer heel aan die begin bieg dat ek nie weet wat ek glo oor die dinosourusse. Ons het You Tube videos en Netflix reeks met die naam Dino Hunt gekyk. Ook die Eyewitness boek oor dinosourusse wys ons die tydlyn van 250 miljoen jaar gelede tot 65 jaar gelede wanneer dinosourusse op die aarde geleef het. Nou dit klink vir my ongelooflik lank gelede. Hoe kan hulle dit weet? Bene opgrawe wat SO baie oud is?! My brein sukkel met dit.

Altyd goed om uit goeie boeke vir jou kinders prentjies te wys en feite te lees. Ons het hierdie ‘pop-up’ boeke oor die jare versamel.

Uitstekende Netflix reeks! Ons het so baie hiervan geleer!

Die alternatief, Skeppendteorie, wat sê dat God die dinosourusse ook saam mense op die 6de dag gemaak het ongeveer 6000 jaar gelede is weer te min tyd vir my om te aanvaar. Ek glo nie in evolusie nie! Ek voel net dat God buite tyd lewe en ons het meskien die 6 dae van die Skepping te letterlik verstaan.

Ons skootboek is n pragtige Christelike inligting bladjie wat ons gebruik het. Vanaf https://www.homeschoolshare.com/dinosaurs.php

So wat sê jy vir jou kinders as jy nie weet wat jy glo oor iets nie? Wel, ek leer vir hulle albei teorië en sê ek is onseker van wat die waarheid is. Dis nog ‘n sappige misterie wat ons verder moet ondersoek! Ons moet na meer kenners luister, van albei standpunte. Ek weet daar is gelowige deskundiges wat mooi kan verduidelik hoe en waar die dinosourusse inpas. Ons gaan dit nog kyk en daarna luister.

Glo ek in Evolution? Ek sê weer NEE, glad nie! Ek weet verseker dat God dinosourusse gemaak het, ek weet net nie wanneer nie.

So, dit gesê, ons het die dinosourus tema dinamies aangedurf. Daar is hope oulike aktiwiteite en werkblaaie met die tema. Dankie aan Amanda wat klomp dino dinge vir my gestuur het!

Dinosourusse uit seep gekerf!

Tenike het n Pterodactyl uit seep gekerf (met mamma se hulp)

My tweeling het in n klein dinsourus boekie geverf.

Klei en klein dinosourusse (wat ek by Checkers gekoop het.)

Ek wou hê dat die kinders moes besef dat die argeloë en paleontoloë moes grawe vir bene en dan hulle saam sit en die dinosourus bou. En dat dit nie maklik was nie en hulle het nie altyd dit reg bymekaar gesit nie. So die oefening om te soek vir legkaart stukke onder sand en dan te bou was om hierdie konsep te verstaan.

Tenike het haar nommers geoefen!

Kry jou gratis dino syfer pak hier https://thekindergartenconnection.com/dinosaur-counting-cards/

Dinosourus legkaart vir kleintjies kan jy hier aflaai https://www.powerfulmothering.com/dinosaur-matching-puzzle-free-printable/

Ilani is glad nie tas sensitief nie so sy het die paper maché aktiwiteit baie geniet!

Paper maché is meel, gom en water. Dieselfde hoeveelheid van elk. So jy kan min of baie maak. Skeer stukkies papier, dip dit in die mengsel en plak op die ding wat jy paper maché. n Balon is gewoonlik die lekkerste ding want jy eindog met n groot harde bal. Jy pop die ballon en dan is dit hol aan die binnekant. Maar ons het n gesnyde koeldrank bottel gepaper maché.

Los die paper maché oornag sodat dot behoorlik droog word. Toe verf Ilani haar vulkaan bruin. Sy het 3 keer die rooi en groen verf gemeng tot sy gelukkig was met die bruin kleur. Ek was trots op haar uithouensvermoë.

Toe was dit tyd vir die vulkaan! Hoekom vulkaan? Want dis hoe die dinos moontlik dood gegaan het. Ons het koeksoda met asyn gemeng asook rooi voedselkleursel. Die kinders het oor en oor die bestandele gemeng vir die opwindende reaksie! Die bome en dinosourusse het almal deurgeloop in die koeksoda ‘lawa’.

Ons vertaal lapbook tot skootboek. Die webwerd gee vir jou al die bladsye met instruksies gratis! Ek bly verstom oor die ongelooflike bronne wat ek gratis vind aanlyn. Die skakel weer: https://www.homeschoolshare.com/dinosaurs.php

Soos jy kan sien is dit papiere wat ons knip en vou sodat hulle oulike boekies vorm.

Die werk wat ons doen is grafieke inkleur: die lengte van sommige dinosourusse merk. Ek en Janéy moes die Amerikaanse ‘feet’ tot ‘meter’ omsit. Sy het definiesies uitgeskryf. Ons het gekyk waar in die wêreld was dinosourus fosiele gevind. Suid-Afrika het die grote bronchiosaurus ontaard!

Die skootboek instruksies het ons gestuur na Job 40: 15-20. Daar lees ons van die ‘Behemoth’. Dit klink baie soos n dinosourus wat God daar beskryf. Het Job dit gesien? Was dit daar tydens sy leeftyd of het God terug verwys na reuse diere wat lank voor mense se tyd die aarde bewoon het? Dit sal ek Hom vra wanner ek hom eendag sien.

https://www.easypeasyandfun.com/tag/dinosaur-printables/

Wat ons in 2014 gedoen het: D is vir Dinosourus https://wp.me/p45UUs-96

0

Julius Caeser en ander C’s

Ek het vir my oudste twee kinders gelees oor die Romeine en Julius Caeser in die laaste week van Januarie 2019. Ek volg nie geskiedenis in ‘n mooi kronologiese lyn nie (soms tot my spyt) maar volg die alfabet wel in order die jaar. So as ek C behandel met my Graad Rtjie, soek ek C temas vir my oudste kinders ook. Daarom Caeser.

Bronne wat ek gebruik het hiervoor was Google, You Tube, Horrible Histories, Story of the World en Shakespeare se Julius Caeser, kortverhaal vir kinders.

Prente en beelde van hom sodat my kinders kan sien hoe het hy gelyk. Ons het een ekstra volkleur beeld van hom laat druk (by manlief se kantoor), gelamineer, en op ons tydlyn teen ons swartbord muur geplak.

‘n Kaart van die lande wat hy oorgeneem het vanaf Google. Ander goed vanaf Google wat ek sal aanbeveel is woorde wat Julius Caeser gesê het, en onthou, hy het Latyns gepraat.

Ons het ook gelees uit Shakespeare se Julius Caeser. Dis n verkorte weergawe sonder die moeilike Engelse taal. Goeie inleiding tot die Julius storie.

Horrible Histories se tydskrif soort boeke is ongelooflik prettig met klomp tekenprente, grusame feite en vasvrae. Sommige van hul inhoud is nie gepas vir jong kinders nie, maar ek vind hulle baie akkuraat en my kinders kan nie genoeg daarvan kry nie. Ek het ook hulle aktiwiteite boeke aangekoop by Takealot. Die Rotten Romans aktiwiteitsboek het klomo plakkers in. My kinders het eers geluister na die storie en toe plak hulle die Romeinse aksie toneel wat plaasvind in die Kolleseum.

Daar was ander feite oor Julius se moord met nog plakkers.

Story of the World is’ n deeglike en interessante bron van geskiedenis. Als word vertel in storie vorm in ‘n toeganglike taal. Daarin het ons gelees van Julius se avontuur met seerowers! So komies en vermaaklik was die verhaal dat ek vir Janéy gesê het om dit in n strokiesprent van haar eie te maak! Sy het so lekker geteken en die woorde direk uit Story of the World geneem. Hy het gesê dat hy meer werd is as wat die seerowers wou vra vir sy losprys. En toe hy wegkom van hulle, gaan haal hy skepe en soldate, vang die seerowers en kruisig hulle by die naaste poort. Toe sê hy: Aan wie behoort die see nou?! Die Julius was ‘n egosentriese man!

Ek is baie trots op Janéy se werk. Sy het volhard daarin en toe die goeie gevoel van vervulling gevoel toe sy klaar maak.

Ilani (8) het geleer oor temperatuur en celsius. Die idee het by my opgekom toe ons hoor hoe verskriklik koud dit in Chicago was die afgelope week. My broer Jonathan en sy vrou Stephanie swot teologie in Chicago by die Moody Instituut. Woensdag die 30ste Januarie kom daar n polar vortex oor die stad wat veroorsaak het dat temperature so laag soos – 27’C gedaal het!! Dit was gevaarlik koud! Skole het toegemaak en my broer se eie Insituut was toe vir 2 dae. Ek het vir Ilani die nuusberûe gelees en toe teken sy ‘n termometer met ons temperatuur asook my ouers in Engeland s’n en my broer en skoonsus se vrieskas temperature.

Ons het eerstehandse fotos gehad van hoe dit lyk daar vanaf my broer ontvang. Dit het ook gesnoei in Engeland by my familie daar. Dis die voordeel van familie oorsee: ons kan leer oor verskillende lande se seisoene, tye en klimaat.

Ilani is nie baie lief vir skryf nie. Omdat dit so baie moeite en konsentrasie kos. Maar toe ek voorstel dat sy ‘n kort drama skryf, was sy baie opgewonde. Sy is baie lief vir drama. Praat heeltyd oor hoensy uitsien na die jaar se drama klasse. So ek wys vir haar vingerpoppe van’ n familie en stel voor dat sy ‘n storie uitdink oor die gesin wat sy dan met die vingerpoppe kan uitvoer!

Sy het 2 dae lank aan die toneelstuk geskryf. Ek het hier en daar gehelp toe die handjie seer geskryf was. Maar sy het meeste daarvan self geskryf en so netjies gewerk! So trots op haar!

Tenike (5) het ook baie mooi gewerk aan haar familie tema asook die Letter C.

Die C werkaarte het ek verniet afgelaai vanaf die webwerf https://easypeasylearners.com/letter-c-worksheets/

Tenike het n CD versier met plakkers en dit buite gehang om die son te weerkaats.

Sy het aan haar familie stamboom gewerk. My oudste het een gemaak 5 jaar gelede, so ons het toe daardie boom gevat en dit opdateer. Klomp nuwe familielede bygevoeg!

Ons het die heerlikste Corn Flake cookies gebak!

Hier is die resep: https://easyfamilyrecipes.com/cornflake-cookies/


C u later!

0

Aktiwiteite vir 2 Jariges

Welkom in ons Kieswetter Klaskamer. Dit is absoluut my #happyplace. Kyk hoe sprokieagtig lyk dit wanneer almal mooi sit en werkies doen. My hart sweef met sulke tye. My oudste werk by haar lessenaar buite die foto aan my regterkant. Ek sal later skryf oor haar goeie week. Dié skrywing gaan oor my tweeling. Hulle is op die oomblik 2 jaar, 9 maande oud.

My tweeling het klomp aktiwiteite gedoen laas week. Ek plaas die mooi fotos hier maar hou in gedagte dat hulle dalk 5 minute (10 op die meeste) spandeer aan hierdie aktiwiteite. Die foto laat hulle so bedrywig en soet lyk. 😊

Hierdie is nie om jou skuldig of sleg te laat voel nie. Dis om vir jou idees te gee. En te laat glimlag, soos dit vir my gedoen get.

Sussie se Vingerpoppe


Ryg krale op n sosatie stokkie wat ek in n polystyrene vrugte houer gesteek het.

n Oomblik waar hulle nie baklei oor wie kry watse pop nie, maar eintlik mooi speel!

Speel met klei. Nivea het gevra dat ek die klei geel maak.


My tweetjies is mal oor verf. Hulle wil elke dag verf!

So wonderlik om liefdevolle ouer sussies te hê om mee te speel. Janéy speel graag met haar sussies. Hier gee sy vir hulle n oefen klas. Te skattig!

0

B week vir verskillende ouderdomme

2019 se B letter week het baie goed gegaan! Die jaar in ons Kieswetter Klaskamer, het ek ‘n Graad 4, Graad 3, Graad R en tweeling van 2 jaar, 9 maande. Dit was vir my’ n vars uitdaging om al 5 my dogters besige te hou met ons B tema.

Ons begin met die jongstes. Ek het ‘n boks gevul met B-letter voorwerpe. Ons het die voorwerpe genoem en gesels oor hulle. Mens kan ook geheue speletjie speel met so boks. Pak net so paar goed in en dat laat kleuter oogies toemaak. Mamma haal een item uit en laat kleuter kyk en dink wat is weg.

My dogtertjie het met n teddie Beer en Ballon gespeel. Ek sê toe vir haar om die beer OP die ballon te sit. Dan voor en agter en onder. Nuwe begrip en woorde word so geleer. En sy het pret met instruksies volg.

Bou brue met blokkies.

My 5-jarige was nie Maandag lus om te werk nie, toe los ek haar. Ek werk dan eksklusief met my twee oudstes so dit pla my nie. Later in die week was sy baie leergierig en gereed om te werk. Toe kry ons sommer baie gedoen!

B is vir brownies

Ek gebruik so paar uitgedrukte bladsye vir my 5-jarige om haar letters te leer. Die week het ek Adelle swart se Geloofs Alfabet Aktiwiteitsboek gebruik. Kry dit hier https://www.mytuisskoolklas.com/product-page/my-letters-aktiwiteitsboek

Letter B met blokkies

Boontjie geplant en sien groei!

My Graad Rtjie het ons trappe gepak met B-voorwerpe. Een ballon, twee balle, 3 baba bottels, 4 babas, 5 bere, 6 Barbies, 7 blou blokkies en 8 borde.

My Graad 3 dogter moes 10 b-woorde leer vir spelling. Toe sy sukkel, maak ons party woorde groot en duidelik sodat sy hulle elke dag kon sien.

Sy het natuurlik ook wiskunde en leeswerk gedoen.

My oudste het n pragtige storie geskryf met soveel oor Ben se Boom.

Ons lees in geskiedenis van die arme kinders in die 1800’s in Londen wat op straat gebly het, en van ‘n Dokter Barnardo wat die eerste huis vir weeskinders oopgemaak het in 1867.

Dit was toe die twee oudste se B werk. Om op te lees oor Dr Barnardo en sy huise vir kinders wat later bekend geword het as Barnardo’s. Maar hoe meer ons lees oor die man, hoe meer wonder ek of hy wel iemand is oor wie ons moet leer! Hy was aangekla vir kinder ontvoering en het 88 keer in die hof verskyn! Dit het my laat benoud voel oor die man en sy motivering vir welsyn huise. Ek het met die kinders my bekommernisse bespreek en ons het bespiegel oor hoekom hy kinders uit hulle huise sou neem. Op die ou einde het ek my dogters gevra om te skryf of hulle dink hy ‘n goeie of slegte man was.

Janéy het besluit dat die statisieke vir hulself spreek: in sy leeftyd het hy amper 60 000 kinders uit armoede gehelp en in huise geplaas waar hulle kos, klere en opvoeding sou kry sodat hulle kan werk soek en n beter toekoms hê. Hy was dus ‘n goeie man.

Ons het wel gesien op’ n You Tube video dat die kinders nie liefde ontvang het in hierdie huise nie. Of so sê een oom wie in Dr Barnardo huis groot geword het. Hy het liefde gemis. My kinders het besef dat baie kinders in ‘n weeshuis dikwels ‘n te kort gaan hê aan drukkies en gawe woorde en persoonlike empatie.

Om na ons vorige jare se B-weke te kyk, volg die skakels

Besige Bytjies B-week 2014

Ben By week 2016

12

Agter haar portuurgroep maar voor in die lewe!

Ek wil baie eerlik gesels oor my oudste kind se 2018 skooljaar. Hoekom?

1. Vir myself. Om rekord te hou van wat sy bereik het. En om myself te herhinner dat dit goed gaan met haar en ons, wanneer die Vergelyk-monster sy kop wil uitsteek. Wanneer ek begin twyfel of ek die regte ding gedoen het, gaan ek weer hier kom lees.

2. Vir ander. Baie van julle loop dieselfde pad. Mag ons getuienis julle bemoedig.

3. Vir Janéy self. Vir wanneer sy bekommerd voel omdat sy 2 jaar agter haar portuurgroep is, kan sy moontlik hier lees en verstaan en goed voel.

Ek het al voorheen gedeel dat ek vermoed my dogter is disleksies. Omdat sy gesukkel het om te leer lees. Omdat sy sukkel om te onthou en net oor die algemeen, konsepte later snap as wat deur die skool sisteem van haar verwag word. Ek kan duidelik sien sy is baie slim. Niks fout met haar redenasie vermoë en verstand nie. Maar sodra ek gevorderde lees of TE moeilike werk voor haar neersit, tuimel sy.

Toe gaan sit ek by ‘n briljante opvoedkundige sielkunde vroeg in Oktober 2018. Ek werk hard om die trane terug te hou. Het ek my kind gefaal? Hoekom kon sy die jaar eers Graad 3 werk bemeester en sy word November 11 jaar oud? Moet ek haar bring en laat toets? Is dit disleksie?

Talita Kelderman het geduldig geluister en toe geantwoord. Dis te vroeg om te toets vir disleksie. Dit kan verwar word met gehoor of prosessering probleme wat mettertyd self regkom. Sy stel voor dat ek haar neem vir gehoor en sig prosessering toetse en moontlik neurologiese brein oefeninge. En dat ek aanhou tuisskool soos ek doen! Baie prakties. Baie visueel. Dat ek vrede maak dat sy 2 jaar agter haar portuurgroep is, maar dat dit okay is. Sy vorder! Stadiger maar seker! Ons werk aanhoudend. Ons is konsekwent met lees, (al is dit makliker boekies as wat ek weet sy moet kan lees vir haar ouderdom, lees sy!) Talita sê dit help nie dat sy haar deur 3-4 ure se toetse sit, en vir my terug rapporteer dat sy agter is. Dit weet ek.

My dogter hou nie van druk nie. Sy kan nie goed werk onder n tydstip en stres nie. Sy kan dan glad nie konsentreer nie. Sy sukkel om instruksies wat sy HOOR uit te voer. Maar kan mooi volg as ek haar wys! Met flitskaarte of blokkies of prentjies en konkrete goed. En dis presies hoe ons tuisskool die laaste 5 jaar! So ons gaan aanhou so maak!

Ek wil net hier ook dokument wat Janéy geniet om te doen.

Sy het kreatiewe idees! Wat sy tyd het om uit te voer.

Sy maak graag werkkaarte en werkboekies vir haar jonger sussie.

Sy het ‘n boek getik! Emma se Lewe. Meer as 6 hoofstukke, meer as 1000 woorde en die titels van nog 20 hoofstukke. Sy get self besluit om’ n storie te skryf. Self daaraan gewerk wanneer die gier haar getref het. En oulike idees gehad wat in die storie gebeur. Sy het tik verkies want sy kry vinnig blase wanneer sy skryf.

Nog ‘n oulike idee wat sy self gehad het, was om’ n storie te skryf met prentjies op sekere plekke wat woorde verteenwoordig. Ons het so paar van hierdie boeke op ons boekrak so sy het voorbeelde gesien. En toe besluit om haar eie prentjie-soort boekie te maak. Ek was so beïndruk met haar! Haar genot vir skryf is definitief iets wat ek aan kan fokus in die toekoms. Laat sy leer spel deur om baie te skryf!

Ek het bewoë gevoel toe ek my dogter se ongelooflike drama vertoning kyk einde November. Sy het alleen op die verhoog gesit, vermom as ‘n ou tannie en al haar woorde foutloos in karakter uitgevoer! En dit nadat sy gesukkel het om haar woorde te oefen en duidelik uit te spreek. Ek het een middag besluit om groot albasters in haar mond te sit en haar forseer om die woorde stadig en duidelik te sê. Dit het gewerk! Sy kon uitsien na haar drama konsert en het die gehoor laat skater van die lag, met haar humoristiese rol vertolking. Ek het gebars van trots!

Janéy het ook modellesse geneem die jaar. ‘n Mamma vriendin van my het opgemerk op my kind se self-vertroue: om alleen op’ n ‘catwalk’ te loop en glimlag vir beoordelaars neem baie self-vertroue. En sy het dit! Grootliks te danke aan tuisskool en die geleëntheid om op haar eie pas te ontwikkel.

Ek voel dat hierdie ‘n lys verdedigings is, dat ek moet bewys dat sy oulik en amazing is. Ek kan nie help dat dit so oorkom nie. Ons samelewing het druk op my geplaas om te sê dat sy eintlik Graad 6 moet wees die jaar. Sy word mos 12. Ek kan nie help om te voel dat ek vinnig moet verduidelik dat sy eers einde van die jaar verjaar nie. En dat ons tuisskool en en en. Ek voel nogsteeds benoud wanneer ek vir dans en ander inskrywingsvorms moet skryf dat sy 11 is maar Graad 4 doen die jaar. Gaan die gevoel ooit weggaan?

Dis vir die rede dat ek hierdie artikel skryf. Om vir MYSELF en ander te oortuig dat ons ‘n ongelooflike oulike kind hier het. Sy is net akademies agter haar portuurgroep. Maar dis net tydelik. Dis net nou. En dis meestal in my kop. Sy is dolgelukkig en het vrede met waar sy is. Sy werk hard en gewillig elke dag. Sy vorder met haar lees en wiskunde. Moontlik sal ons eendag kan inhaal.

Ek kan nie myself wegskeur van die wens en hoop vir ‘n geniale kind nie. Is dit nie elke ouer se begeerte nie? Dat hulle kind n top prestreeder is en toekenning na toekennning verwerf nie. As ek eerlik moet wees, sal ek sê ek sou dit baie geniet!

Maar’ n volwasse ouer moet hulle eie hope en drome neerlê en hulle kinders eerste stel. My kind se prestasie is nie meer belangrik as sy nie. Haar emotionele gesondheid en geluk moet en is vir my meer belangrik.

Sy het ‘n pragtige brief geskryf vir ons gawe buurvrou. Haar woorde het my tot stilstaan gebring.

En daarom kan ek sê, sy is wel akademies agter haar portuurgroep maar voor in die lewe!